Genesis 8:20 sê dat Noag uit die ark gegaan het en
vir die Here ‘n altaar gebou het waarop hy brandoffers
gebring het. Dit was die direkte teken van Noag se dankbaarheid.
Reeds op die eerste bladsye van die Bybel staan dit:
Verlossing word gevolg deur dankbaarheid! God het uit genade
vir Noag uitgekies en hom en sy familie gered. Dit stem ooreen
met die drie hoofdele van die Heidelbergse Kategismus:
Sonde-ellende...Verlossing!... Dankbaarheid!
Die offer was vir die Here ‘n “lieflike geur”, sê die 1933 vertaling.
Die 1983 vertaling sê “die Here het die offer aanvaar.” Die Here
word verbly deur tekens van dankbaarheid by sy kinders!
Ons moet ook ons dankbaarheid vir ons verlossing in Jesus Christus
uitleef! Ons hele lewe, met alles wat ons het, word ‘n lofoffer van
dankbaarheid aan die Here. Daarom beklemtoon Paulus in Rom. 12:1:
“Gee julleself aan God as lewende en heilige offers wat vir Hom
aanneemlik is. Dit is die wesentlike van die godsdiens wat julle moet
beoefen.”
By alles in jou godsdienstige handelinge en offers bly die belangrikste
vraag: Het jy al jouself gegee? Dít is ‘n geloofshandeling. Dit is wat
Noag gedoen het. Jou verlossing in Nuwe-Testamentiese konteks is
nog veel “groter” as Noag sin! God laat jou nie ‘n ark bou waardeur
jy jouself kan “red” nie. Nee. God voorsien self die “ark van redding”:
Sy Seun Jesus Christus! Hierdie wonder van genade vra van jou
voortdurende tekens van dankbaarheid in jou lewe. Deurlopende
dankbaarheid volg op geloof en redding. Mag jou lewe, ook soos
Noag se offers, ‘n aangename geur vir die Here wees!
“Maar aan God die dank! Hy voer ons altyd saam in sy triomftog
omdat ons een is met Christus. Deur ons versprei Hy die kennis
van Christus oral soos ‘n aangename geur”. Wow!...Halleluja!...
Prys die Heer!...Amen!
Ernest