God toets ons gehoorsaamheid. God toets ons geloof.
God toets ook ons liefde vir Hom. Op Moria is Abraham
se gehoorsaamheid en geloof getoets, asook sy liefde vir God.
Abraham het vir Isak baie liefgehad. Niemand minder as God
self getuig hiervan nie. Toe God aan Abraham sy opdrag gee
om Isak te gaan offer, sê Hy vir Abraham: “Vat jou seun, jou
enigste seun, Isak wat jy liefhet...en offer jou seun.” – Gen. 22:2.
God weet dat hierdie pa sy seun baie liefhet. Isak was ‘n belofte
en gawe van God aan Abraham en Sara, en is deur God gegee
toe dit menslik onmoontlik was vir hulle om kinders te hê!
Juis dit maak dit vir Abraham soveel moeiliker. God het dan beloof,
en hulle het Isak as kind ontvang, en dit sou die belofte van sy
nageslag wees...
Nou vra God van Abraham om te wys dat hy God meer liefhet as
sy geliefde kind! Hy moet bereid wees om sy kind vir God te offer!
As ons mooi daaroor dink is dit ‘n “menslik onmoontlike” offer wat
hy moet bring. Hoe kan hy!? Dink net aan die fisiese detail daarvan...
Maar God se liefde is sterk en gee krag om die “onmoontlike” te doen.
Baie eeue later het die Here Jesus hierdie waarheid, dat jy God bo alles
lief moet hê, kom beklemtoon met Matteus 10:37: “Hy wat sy seun of
dogter liewer het as vir My, is nie werd om aan My te behoort nie.”
Natuurlik beteken dit nie dat jy jou seun of dogter nie mag liefhê nie.
Jy moet hulle liefhê. Soos Abraham sy seun en God sy Seun liefgehad het!
Maar God kom eerste. Jou liefde vir God moet sterker wees as enige band
wat jou met mense bind.
Hierin lê ook vir ons ‘n toets ten opsigte van ons liefde vir God.
Het jy God werklik bo alles en almal lief? Die wonderlike is dat,
wanneer dít waar is, jou liefde vir jou geliefdes en ander mense in elk
geval baie groter is as wat dit andersins ooit kon wees...!
Ernest