God vra nie van ons iets waarin Hy nie self ook voorsien nie.
Ons kan in elk geval niks sonder God doen nie, nie eers asemhaal nie!
God vra ook nie van ons wat Hy nie bereid was om ook self te doen nie.

Hy het van Abraham sy geliefde seun Isak gevra as offer. Hy het vir óns
so lief gehad dat Hy sy Seun werklik vir ons geoffer het aan die kruis!
Daardeur baan God vir ons ‘n pad tot die ware lewe saam met Hom.
Elkeen wat in sy Seun glo sal nie verlore gaan nie, maar die ewige lewe
hê! – Joh. 3:16. Dit is onbegryplike groot genade van God as ons net
mooi daaroor dink: Hy gee nie net sy Seun as offer nie, maar behandel
Hom ook soos ‘n sondaar en giet al sy toorn oor die sonde op Hom uit!
Alles vir ons! Alles ter wille van sy liefde vir ons! Die 2020 vertaling
vertaal 2 Kor. 5:21 treffend en letterlik uit die Grieks só:
“Hy wat nie sonde geken het nie, Hom het God ter wille van ons tot
sonde gemaak, sodat ons in Hom voor God geregverdig kon word.”

Wat moes dit nie vir God die Vader gekos het om dít aan sy geliefde
Seun te doen nie?! Onbegryplik groot! God se genade en liefde vir ons!
Al ons sonde op Jesus gelaai! Hy is soos die offerlam: Dit hét nie en kén
nie sonde nie, maar word draer van die mens se sonde. Jesus word die
Offerlam van God! Vir ons sonde!
As God voor jou staan en van jou vra om om jou liefde aan Hom te
bewys deur afstand te doen van dit wat jy so liefhet, is dit nie ‘n wrede
eis waarvoor Hy geen begrip het nie. Hy weet alles daarvan!
Hy het dit eerste vir jou gedoen!

Die Here is die God wat voorsien. Hy het die offerlam op Moria in die
plek van Isak voorsien. Hy het ook die Offerlam, Jesus, in jou plek voorsien.
God sien vooruit en voorsien! God sal nie van jou iets vra waarin Hy nie self
sal voorsien nie! Daarom kan jy regtig alles rustig in God se hande laat as jy
in gehoorsaamheid aan God, met geloof in God, en uit liefde vir Hom leef!

Moria, waar Abraham sy seun Isak moes gaan offer, verander vir Abraham
in ‘n plek van seën! Abraham kom nie armer van die berg af nie, maar oneindig
ryker! Wanneer God van jou vra, word jy nie armer deur te gee nie, maar ryker!
Oneindig ryker! Kyk net wat sê God vir Abraham: “Ek lê ‘n eed af by Myself dat
Ek jou baie sal seën oor wat jy gedoen het: Jy het nie geweier om jou seun, jou
enigste seun, aan My te offer nie.” – Gen. 22:16-17. Let op dat God sê: “...baie
sal seën...”

Abraham ondervind hier wat alle kinders van God ondervind:
Die werklike geseënde mens is die mens wat niks vir God terughou nie,
wat in gehoorsaamheid, en geloof, en liefde, alles gee wat God van jou vra!
Jy ontvang oneindig meer as wat jy gee! Alles wat God se kind vir tyd en ewigheid
nodig het, lê opgesluit in sy eed: “Ek sal jou seën!” God het dit op die Golgota berg
vir jou gedoen! Daarom kan jy die kruisberg, Golgota, jóú Moria noem! Op hierdie
berg hét God álles vir jóú voorsien!

Ernest