Moria het vir Abraham ‘n plek van seën geword.
Maar God se seën was nie hier tot Abraham beperk nie.
Die Here beloof aan Abraham ‘n groot nageslag en sê dan
in Gen. 22:18: “In jou nageslag sal al die nasies van die aarde
geseën wees, want jy het My gehoorsaam.”

Baie eeue later skryf Paulus, onder leiding van die Heilige Gees,
juis hieroor wanneer hy sê: “Die Skrif het vooruit geweet dat God
ook mense wat nie Jode is nie, sou vryspreek as hulle glo. Daarom
het die Skrif al voorheen die goeie nuus vir Abraham gebring:
“In jou sal al die nasies geseën word” – Galasiërs 3:8.

Wat Abraham dus op Moria gehoor het was niks anders as die
verkondiging van die evangelie nie! Elke mens wat glo sal deur die
geloof in die regte verhouding met God gestel word. Want op die
regte tyd sal God sy Seun stuur om geoffer te word. Vir Hom was
daar geen plaasvervanger, soos vir Isak op Moria nie. Jesus moes
en hét gesterwe “sodat elkeen wat in Hom glo, die ewige lewe kan
hê” – Joh. 3:14-15. Dit het gelyk of Abraham se paadjie in Isak op
Moria gaan doodloop. Asof hy geen nageslag sou hê nie. Maar juis
daar word hy die vader van die gelowiges. “Julle sien dus dat dié
wat glo, kinders van Abraham is” – Galasiërs 3:7.

Efesiërs 3:6 verduidelik dit verder: “En dít is die geheimenis:
deur die verkondiging van die evangelie en in hulle verbondenheid
met Christus Jesus, word ook mense wat nie Jode is nie, saam met
ons deel van die volk van God en lede van die liggaam van Christus,
en kry hulle ook saam met ons deel aan wat God belowe het.”
Reeds by Moria het God belowe dat sy seën tot al die nasies uitgebrei
sal word!

Selfs vandag nog is dit asof hierdie belofte van God aan Abraham vir
baie mense ‘n geheimenis is. Hulle verstaan nie en is ongehoorsaam
daaraan dat die evangelie verkondig moet word. Hulle leef asof dit
net ‘n persoonlike seën en “voordeel” is. Paulus sê dat die Heilige Gees
hierdie geheimenis kom opklaar. Wanneer die Gees in jou woon en jy
die vrug van die Gees dra, sal jy uitreik na alle mense en die evangelie
uitdra. Wanneer jou lewe oop is vir die beheer van die Heilige Gees
verkondig jy die evangelie!... sover jy gaan met woord en daad!

Ernest