Dikwels is ons geloof so wispelturig.
Wanneer ons in ‘n krisis vasgekeer en magteloos voel,
dan kom daar sommer skielik lelike eienskappe in ons na vore.
Ons vergeet van al die groot dinge wat God in die verlede vir ons gedoen het.
Ons vergeet sy getrouheid en sy geskiedenis met ons.

Dit is wat die Israeliete doen wanneer hulle in Eksodus 14:11 vir Moses sê:
“Wat het jy ons aangedoen dat jy ons uit Egipte laat trek het?”
Net kort tevore is hulle wonderbaarlik uit slawerny bevry.
Hulle het met hul eie oë gesien hoe die tien plae kom en gaan.
Nou blameer hulle Moses.
Wat het hy hulle aangedoen?
Hulle verloor hul visie op die einddoel.
Kanaän maak nou nie meer saak nie.
Hulle wil terug na die slawerny!
Kan jy glo?!

Ons maak ook maklik so.
Ons verloor ons visie in ‘n krisissituasie.
Ons vergeet wat God vir ons gedoen het.

Moses behou sy visie en geloof.
Hy bly God blindelings vertrou.
Hulle sien die strydwaens van die Egiptenaars op die horison.
Tog bly praat Moses die taal van geloof en vertroue in God!
“Moenie bang wees nie. Staan vas,
kyk hoe die Here julle vandag gaan red,
want soos julle die Egiptenaars nou daar sien,
sal julle hulle nooit weer sien nie.
Bly julle maar kalm.
Die Here sal vir julle veg.”

Sal ons nie ook, soos ‘n Moses in die storm,
hemelwaarts kyk, en glo en vertrou nie!
Ons kan dit doen!
Ons het die Here se belofte wat vasstaan!
“Ek sal jou nooit verlaat nie,
jou nooit in die steek laat nie.”
Daarom kan ons met vertroue weet:
“Die Here is my helper, ek ken geen vrees nie:
Wat kan ‘n mens aan my doen?” Hebreërs 13:5-6.

Ernest