Die belangrikste troos en versterking wat ons nodig het
vir hierdie ongekende tye waarin ons nou lewe is om te wéét:
Die Here is my Herder! “Die Here is my Herder.” Dit is hoe
Psalm 23 begin. Die aksent is op mý Herder. Jy kén hierdie Herder.
Die Herder ken jou. Dit is hierdie waarheid wat al die verskil maak
in die wêreld waarin ons nou leef. Nêrens word daar in Psalm 23
gepraat van ‘n skaap nie, want die Herder is ook die beeld wat
destyds vir die koning gebruik is. God is ons Koning wat ons soos
‘n herder in die onbekende lei. God is in beheer en Hy weet wat Hy
doen. Die Herder is ook die voorsiener in al jou behoeftes.
God sal voorsien. God belowe dit, en wat God belowe, doen Hy.

Vers 4 vertel van die monsters waarteen ons ons kan vasloop.
“Selfs al gaan ek deur donker dieptes, sal ek nie bang wees nie,
want U is by my. In U hande is ek veilig.” Tot in vers 3 praat die
Psalm skrywer ván God as “Hy”. Maar nou, in vers 4, praat hy
mét God as “U”. Ons het nie te doen met ‘n veraf onpersoonlike
God nie. God is ‘n persoonlike God wat ons op ons naam ken.
Hy is bý ons. Jy kan op God alleen vertrou in tye van donker dieptes.

Soos met Bob Buford: Nadat sy seun Ross, sy enigste kind,
in die Rio-Grande rivier verdrink het, het Bob geweet hy is in
tye van donker dieptes. Hy het, terwyl hy langs die rivier geloop het,
by homself gesê:
“Here’s something you can’t dream your way out of.
Here’s something you can’t think your way out of.
Here’s something you can’t buy your way out of.
Here’s something you can’t work your way out of...
This is something you can only trust your way out of.”
In sulke tye van donker dieptes is vertroue in ons Herder al uitweg.
Vertrou jy onvoorwaardelik op Hom? Regtig?

Ernest