Filippense 4:13: “Ek is tot alles in staat deur Hom wat my krag gee.”
Ons het gister gesien hoe belangrik die konteks is waarin Paulus
hierdie woorde skryf. Lees gerus eers weer gister se boodskap.

Is ons regtig tot “alles” in staat? Die sleutelwoord vir die verstaan
van die woord “alles” in hierdie teksvers, is die woord “in”. Jy is net
in staat wanneer jy “in Hom” is wat jou krag gee. Dit beteken dat God
se wil vir die situasie of omstandighede van toepassing is. Jy sal in
staat wees om God se wil te doen. Verseker, wanneer jy in Hom is.
Iemand het eenkeer gesê: “In Hom, beteken om daagliks te oefen
saam met Hom, en dit beteken om saam met Hóm te loop!”
Oefen daagliks! Loop saam met Jesus Christus!
Daardeur bely ons dat ons totaal afhanklik van Hom is.

Wanneer jy in Christus is, is jy in staat om alles te doen wat sý wil vir
jou is, selfs in die uiterste en moeilike omstandighede. Binne in dit
gaan dit nie om jou wil nie, maar sý wil. Niks behoort ons daarin
onder te kry nie. Want ons weet niks is vir God onmoontlik nie.
Daar is ‘n Engelse uitdrukking wat regtig op Christene van toepassing
is in hierdie verband: “If the going gets tough, the tough gets going.”

Christene is tot alles in staat deur Christus wat ons krag gee.
Gelowiges ken nie woorde soos “kan nie”. Wanneer dit God se wil is,
kán dit! “Kan nie” impliseer eintlik ten diepste ‘n gebrek aan vertroue
in God. “Kan nie” ten opsigte van God se wil, is in 33nC deur Jesus
Christus vir ewig oorwin aan die kruis en met die opstanding!
Dit beteken ook dat dit nie meer belangrik is wat jy verloor het nie,
maar wat jy oorgehou het. Dit is nie wat jy verloor het wat tel nie,
maar wat jy oor het, en wat God dáármee wil doen, deur jou!
Dikwels is die grootste gebrek wat ons moet oorkom onsself!
Die res van jou lewe se avontuur lê voor, saam met God.

Paulus het hierdie brief aan die Filippense geskryf terwyl hy
in die tronk sit en wag op die doodstraf. En nogtans loop
hierdie brief oor van vreugde in Christus!
RW Emerson het gesê: Alles wat ek sien, leer my om
die Skepper te vertrou met alles wat ek nie sien nie!
Hy het ook verder gesê: Doen God se wil,
en jy sál die krag kry!

Ernest