“Mag God, die Bron van hoop, julle deur julle geloof
met alle vreugde en vrede vervul, sodat julle hoop al hoe sterker
kan word deur die krag van die Heilige Gees.” – Rom. 15:13.

Die probleem van gebrek aan hoop lê nie by situasies nie, maar by
mense. By ons. Daarom is dit so belangrik om soveel as moontlik van
Christelike hoop te verstaan. Ons moet eintlik as kinders van die Here
bely: waar daar hoop is, is daar lewe! Ons doen dit andersom in die
spreekwoord. Ons sê “waar lewe is, is hoop.” Dit is ook waar. Maar
dink mooi daaroor: Waar hoop is, is daar lewe! God skep in elke
menslike skynbare “doodloop” situasie Christelike hoop!

Daarom moet ons hoop op verlossing as ‘n helm dra.
1 Tessalonisense 5:8 sê: “Maar ons wat van die dag is, moet nugter
wees; ons moet geloof en liefde as borsharnas dra en die hoop op
verlossing as helm.” Soos ‘n op en wakker soldaat kan ons vrees en
angs en moedeloosheid beveg! Ons is seker ons toekoms is in God
se hande en die helm van hoop is daar om ons te beskerm in enige
situasie. Daarom sê vers 9: “God het ons tog nie bestem om gestraf
te word nie, maar om deur ons Here Jesus Christus verlos te word.

Hoop is ‘n anker wat God aan ons gee. Hebreërs 6:19 sê tog:
“Hierdie hoop besit ons as ‘n veilige en onbeweeglike lewensanker...”
Ons kan nie uit God se hand geruk word nie. Ons moet doelbewus uit
hierdie waarheid leef. Nie eers die dood kan ons uit God se hand ruk nie.
Jesus het ons lewensanker vasgemaak aan die troon van God.

Daar is die ewige toekoms in hoop. Nie eers die ouderdom of dood kan
hierdie toekoms inhaal nie! Die toekoms in hoop is God se toekoms!
Dit is die enigste versekerde toekoms! Paulus het gesê: “En nou: geloof,
hoop en liefde bly, hierdie drie. En die grootste hiervan is die liefde.”
Augustinus het met goeie rede, volgens hom, geglo dat hoop die beste
van die drie deugde is. Geloof vertel dat God bestaan. Liefde vertel ons
dat God goed is, want God is liefde. Maar hoop vertel ons dat God verseker
doen wat Hy belowe het! Ons hoef nie hieroor te redeneer nie, maar net
weereens te besef hoe belangrik hoop is vir ‘n lewe in die voetspoor van
Jesus! Dit gee ons alle vreugde en vrede, volgens bogenoemde Rom. 15:13!
Leef doelbewus met Christelike hoop!

Ernest