Jy is familie van God! Ek is familie van God!
Ons is familie van God! Dit is een van die wonderlikste
stellings wat oor gelowiges in Jesus Christus gemaak kan word.
Ons is familie van God! Seker een van die mees treffende waarhede
hieroor staan in Romeine 8:15-16: “Die Gees wat aan julle gegee is,
maak julle nie tot slawe nie en laat julle nie in vrees lewe nie; nee,
julle het die Gees ontvang wat julle tot kinders van God maak en
wat ons tot God laat roep: “Abba!” Dit beteken Vader. Hierdie Gees
getuig saam met ons gees dat ons kinders van God is.”
Rudyard Kipling het oor families gesê: “All of us are we – and everyone
else is they.” Bogenoemde teks word betekenisvol ook omarm deur
verse 14 en 17. Vers 14: “Almal wat hulle deur die Gees van God laat lei,
is kinders van God.” Dit onderskei kinders van God van ongelowiges.
Vers 17: “En omdat ons kinders is, is ons ook erfgename.
Ons is erfgename van God, erfgename saam met Christus.”
Ons is regtig spesiaal! God het dit alles bewerk!
Ons word ook deur die Gees bymekaargehou deur die liefde van God.
Ons sal nooit weer alleen wees nie. God ons Vader is deurgaans by ons
teenwoordig. In Jesus Christus deur die Heilige Gees. En ons is ook as
familie van God verseker van dit wat God ons laat erf. God wil ook nie
hê dat ons ooit moet dink dat ons alleen kan leef nie.
Wanneer Paulus in Romeine 8:12-17 oor ons as familie skryf gee hy
baie belangrike waarhede deur aan ons. So gebruik Paulus dieselfde
Griekse woord wat Jesus beskryf as God se kind, om ook ons aan te
dui as kinders van God. Ons is erfgename van God, erfgename saam
met Christus! Dit is genade! En dit is evangelie! Vers 16 wil sê dat
indien jy hieroor twyfel, wil die Gees van God jou oortuig om dit te glo!
God help jou om dit te glo. Glo hierdie wonderlike waarheid vandag
en gaan leef daaruit: Ons is familie van God! Ons, familie van God...
dit is waar ons as gelowiges tuiskom in ‘n koue harde wêreld.
Kniel voor God jou Abba Vader. Leef saam met Jesus.
Getuig saam met die Gees. Jy is God se kind!
Ernest