Romeine 8:14: “Almal van julle wat julle deur
die Gees van God laat lei, is kinders van God.”
Coenie Burger skryf hieroor dat die familie van God
veel meer is as net ‘n gewone familie. God se familie
is anders in die omvang van ons liefde vir mekaar. Ons
aanvaar mekaar en het mekaar lief ten spyte van verskille.
Ons is ook anders in ons openheid na mekaar en na mense
buite die geloofsfamilie.

Dit gaan tog in die eerste plek nie alleen oor die geloofsfamilie
nie, maar oor die wêreld wat vir die Here bereik en gewen moet
word. Dit is deel van die geloofsfamilie se roeping. Dit is die kerk
van Jesus Christus se “bestaansreg”. Die geskiedenis het ook geleer
dat die uitsonderlike van Jesus se volgelinge hulle merkwaardige
openheid is. Hulle is nie ‘n eksklusiewe klub nie. Hulle betoon liefde
met gasvryheid. God se familie is ook anders in ons bereidheid tot
selfverloëning en diens. Ons leef eenvoudig nie vir onsself nie.

Maar laat ons eerlik wees: Ons het ook ‘n geskiedenis van mislukkings.
Tog word ons keer op keer weer deur die Here opgeroep om uit te leef
wie ons in Christus is! Familielede, kinders van God, is nié volmaak nie.
Net God, Vader, Seun en Gees, is volmaak. Die Woord van God sê nie
ons moet volmaak wees nie. Die Woord van God sê ons moet heilig wees.
Dit is waartoe ons as familie van God opgeroep word. Ons moet ons hele
lewenswandel rig op God se heiligheid. Sy heiligheid is as’t ware ons model.
In die praktyk beteken dit kortliks dat ons as gelowiges met alles wat ons is
en het, in diens van God staan. In alles wat ons dink, sê en doen wil ons eers
vasstel of dit God se goedkeuring sal wegdra.

Dit is ‘n lewenslange groeiproses waarin die Gees ons wil lei om die vrug van
die Gees van Galasiërs 5:22-23 te dra. Hierin maak ons dikwels foute wanneer
ons die Heilige Gees weerstaan.
Dit is te wagte dat daar ook spanning in die familie van God sal wees omdat
ons, weens foute, moeite het om te doen wat ons moet doen in hierdie wêreld.
Ons het ook verskille. Ons is lief vir mekaar ten spyte van ons verskille en ons
groei saam daaruit.
Daarom moet ons ook groei uit kritiek en dit nie net beterweterig afmaak nie.
Ons sal ook kwaad word. Maar dan moet ons nie sondig nie. Dit moet gaan om
God se eer en nie ons eer nie.
Ons is vergeefde sondaars, maar nie sonder foute nie. Ons is nie totaal sonder
swakhede nie. Dan sou ons volmaak wees. Ons is nie.

Ons moet weet: ‘n Nuwe begin is elke keer by God beskikbaar wanneer ons
na sy wil soek en dit wil uitleef as familie van God. Dit noem ons genade!
Gaan leef doelbewus as deel van God se familie. Jy is God se kind.
Sáám, is ons sy kinders!

Ernest