Johannes 14:1: “Julle moet nie ontsteld wees nie.
Glo in God, glo ook in My.” Ons hoor nogal dikwels dat
iemand “aan sy senuwees ly.” Of dat iemand ‘n “senuwee-
ineenstorting gehad het.” Dit kan enige iets beteken van
depressie, tot groot skrik, tot angsaanvalle, tot ontsteltenis
oor iets wat gebeur het of gaan gebeur.
Mense bedoel allerhande dinge met ‘n “senuwee-ineenstorting”.

Jesus het bemerk dat sy dissipels “op hulle senuwees was”.
Vreemde dinge was aan die gebeur. Die laaste maaltyd was somber.
Hý was hulle voete! Hulle vier sy dood en God se verlossing en hulle
weet dit nie eens nie. Jesus is op pad na die kruis. Jesus vra of hulle
verstaan wat Hy gedoen het na Hy hulle voete gewas het.
Klaarblyklik begryp hulle nie. Verstaan ons dit al in 2021?
Om werklik mekaar te dien? Dit is nie maklik nie.

Jesus moet ons gedurig leer. Insig op insig, aanraking op aanraking,
reiniging op reiniging, wassing op wassing. Tot iets begin deurskemer
van Jesus in ons lewe...
Nou maak Jesus hulle weer kalm. “Julle moet nie ontsteld wees nie.
Glo in God, glo ook in My.” Hierdie woorde van Jesus troos en bring
vandag nog kalmte in ons lewe. Voeg daarby die woorde van vers 18:
“Ek sal julle nie as weeskinders agterlaat nie; Ek kom weer na julle toe.”

Daar kom tye van hewige ontsteltenis in gelowiges se lewe.
Tye wanneer ons senuwees rou is en die lewe hartseer en somber.
Dan wil ons nie voel soos weeskinders wat deur God agtergelaat is nie.
Dan verseker die Here ons dat Hy by ons is. Ons kan bedaar...
en weet dat die Gees ons te hulp kom. Jesus bedoel wat Hy gesê het.
“Glo in God...Glo ook in My.”

Ernest