Moses het gevra om God te sien. Dit nadat Hy reeds met hom
in die woestyn, op die trekpad en op die berg gekommunikeer het!
Dit is ‘n tipiese menslike reaksie en versoek. ‘n Mens kan Filippus,
een van die “stil” dissipels van Jesus, se byna gedempte versoek aan
Jesus verstaan: “Here, wys vir ons die Vader, en dit is vir ons genoeg.”
– Johannes 14:8. Wys ons tog net een keer die Vader, en ons sal tevrede
wees...Dit is versekering wat Filippus soek.

Soos die ander dissipels, verstaan hy nie al die gebeure wat aan die gang
is nie. Hy besef nie dat hy ook deel is van die proses wat ‘n regstelling én
herskepping in God se hele skepping gaan teweegbring nie. Sou ons dit
verstaan as ons in Filippus se skoene was? Verraad, verloën, lyding, kruis,
weggaan om weer terug te kom. Vir die menslike gees is dit alles te veel...

Sielkundiges beweer om een enkele begrip in die brein te laat posvat,
soos byvoorbeeld om op te staan uit jou stoel, die proses is van triljoene
breinimpulse waarvan die brein binne nanosekondes slegs ‘n paar moet
uitsif om die eenvoudigste gedagte in die brein te plant. Hoe merkwaardig
is ons as skepping van God! Maar nog meer: met die triljoene impulse en al
kan ons verstand sekere dinge steeds nie hanteer nie. Vertel ons daarvan...
ons almal weet dit. Dan vra ons die eenvoudigste oplossing: “Wys ons!”

Ons kom ook, soos Filippus in Joh. 14:8, in ons geloof by die punt:
“Here, wys vir ons die Vader, en dit is vir ons genoeg.” Die ironie is dat
ons meestal, as ons gewys is deur al God se wonderwerke, ook nie glo nie.
As Jesus gewaag het om aan die dissipels net ‘n kykie op die Vader te gee,
wat in elk geval onmoontlik is, sou hulle geglo het? Ons weet nie.

Maar Jesus sê: As jy My ken, ken jy die Vader. God se hele raadsplan,
sy verlossingsplan, is in My! “En Jesus sê vir hom: “Ek is al so lank by julle,
en ken jy My nie, Filippus? Wie My sien, sien die Vader. Hoe kan jy dan sê:
“Wys vir ons die Vader? Glo jy nie dat Ek in die Vader is en die Vader in My
nie? Die woorde wat Ek met julle praat , praat Ek nie uit my eie nie; maar dit
kom van die Vader wat in My bly en sy werke doen.”
Filippus sien al die werke en wonderwerke wat God in Jesus doen, en wil
steeds die Vader “sien om te glo”. Ons sê ook: “Sien is glo”, terwyl ons al
God se werke daagliks sien! Daarom sê Jesus in vers 11:
“Glo in My omdat Ek in die Vader is en die Vader in My; of anders, glo op
grond van die werke self.” Filippus is by al Jesus se wonders, en dit is nie
genoeg nie.

Genadiglik verstaan Jesus ons. Daarom, aanvaar sy woord! Hy sal sorg.
Geloof is die moed om verder te waag as wat jy kan sien, om oortuig te
wees van wat jy nie kan sien nie – Heb. 11:1. Daarom hoef ons nie te vra
“Here wys ons” nie...
Geloof is nie ‘n kitskursus nie. dit is nie “om te sien” nie. Dit word aangeleer
en dit loop deur vertroue en twyfel, deur val en opstaan.
Dit is om jou hand in die Here se hand te sit, juis omdat jy nié sien nie.

Ernest