“Dit verseker Ek julle: Wie in My glo, sal ook die dinge doen
wat Ek doen: en hy sal nog groter dinge as dit doen, omdat
Ek na die Vader toe gaan.” – Johannes 14:12.
Dit is iets baie groot wat Jesus hier sê. Baie mense sê ons kan dit
waarskynlik nie heeltemal deurgrond nie want uiteindelik is dit God
se werk deur ons! Dit kan soveel dinge op sigwaarde beteken as ons
dit net so lees. Sou dit beteken dat Jesus hier sê ons kan op sy aardse
werk, toe Hy hier was, verbeter? Gee Hy hier op ‘n manier te kenne dat
Hy net die begin van die Nuwe Testamentiese wonders is?
Wanneer ons na die huidige wêreld kyk dan laat dit ons dink...
Jesus kon siekes merkwaardig gesond maak. Ons kan dit vandag met
verbysterende tegnieke en middels doen. Hy kon nooit verder reis as
ongeveer 200 kilometer nie. Ons kan in ‘n dag se tyd bykans rondom die
wêreld vlieg. Hy was op ‘n skuit en het op stormwaters geloop. Vandag
vaar mense met groot bote wat verskeie verdiepings hoog is.
Ons maak egter ook grootse menslike planne wat katastrovaal misluk.
‘n Amerikaanse joernalis het reeds in 1920 die ou Sowjetunie besoek en
gesê hy het die toekoms gesien en dit werk. Maar hierdie toekoms is
intussen tot niet.
John Wesley het gedurende sy lewe vroeg in die 18e eeu 25000 myl te
perd afgelê en gemeentes gestig, en vir meer mense gepreek as wat Jesus
ooit bymekaar gesien het. Vandag preek bekende predikers vir duisende
mense per geleentheid op openbare media. Die evangelie word deur
duisende boeke versprei. Dit is voorwaar tegnieke en gebeurtenisse wat
in Jesus se tyd as wonderwerke gesien sou kon word. Maar is dit nou alles
wat met bogenoemde teks bedoel word?
Wat beteken dit dat gelowiges nog groter werke sal doen?
Hierdie vers verwys na alle waarskynlikheid nie na kwaliteit nie, maar na
kwantiteit. God sou in die totale toekoms na Christus se lewe hier op aarde
deur die gelowiges voortgaan met sy werk. God doen dit. Omdat Jesus sou
weggaan na sy Vader, sal die gelowiges die manier word waarop God sy werk
sigbaar hier op aarde doen. Hulle doen dit deur die Gees. Hulle sal nog baie
meer dinge doen, “groter dinge”, as wat Jesus gedoen het toe Hy op aarde
was. Dit is egter nou nie asof die mense dit uit hulleself gaan doen nie.
Die Vader gaan dit déúr hulle doen!
Daarom is dit so noodsaaklik om bogenoemde vers 12 saam met die
gebedsuitspraak van die volgende twee verse 13 en 14 te lees.
Dit loop sáám: “Wat julle ookal in My Naam vra, sal Ek doen, sodat die Vader
deur die Seun verheerlik kan word. As julle My iets in my Naam vra, sal Ek dit
doen.” Dit is ‘n gebed om die werke van God te doen! Daarom sal die Vader
en die Seun daardeur verheerlik word. Daarom sal die Vader déúr ons doen
wat sy wil en tot sy eer is.
Hierdeur leer ons ook dat gebed eintlik meer aan die gelowige doen as aan God.
Deur gebed maak die gelowige nou seker om in pas met God te wees. So doen
God dan groot werke, “groter dinge” volgens vers 12, deur die gelowiges wat
nou voortgaan om Hom in die Naam van Christus te verteenwoordig.
So gesien bly alles wat ons in Jesus en deur die Gees doen, ook steeds die dinge
wat Jesus doen, en sal God Self voortgaan om nog groter dinge te doen,
ook deur ons! Alles bly God, die Vader, Seun en Gees se werk!
Ons dank God daarvoor!
Ernest