Een van die dissipels, die ander Judas, vra Jesus heel billik
hoekom Hy Hom in slegs so ‘n klein kring openbaar en
“nie aan die wêreld nie”. Kon Jesus nie ‘n manier van
openbaring gekies het wat Hom soos ‘n donderslag aan die
wêreld bekend gemaak het nie? Sou meer mense nie dan glo nie?

Maar die Bybel maak dit vroeg reeds duidelik dat dit God se metode
is om met mense deur ‘n proses te werk op die beginsel van die eerste
tree van begrip, en nog ‘n tree, en nog ‘n tree: klein begin met magtige
einde. Dink net daaraan in hoe ‘n klein kring die dissipels by Jesus is,
hoe blootgestel hulle aan Hom en sy lering is, en hoe min hulle nog
steeds verstaan!

Daar is ‘n legende wat vertel dat Jesus na sy hemelvaart deur die
aartsengele gevra is hoekom Hy nie maar nog op die aarde gebly het om
sy werk voort te sit nie. Die legende laat Jesus dan antwoord:
Dis nie nodig nie, want my dienskneg Petrus is daar. My dienskneg
Johannes is ook daar. Al my ware apostels is daar, en Ek is besig om my
kneg Paulus voor te berei. Ná hulle sal nog ander kom en my werk voortsit.”
Dit is ‘n veelseggende legende. Dit is ook die metode wat God gekies het.
Die Here werk nou vandag deur ons. Deur elke volgeling van Hom wat vir
Hom leef en getuig.

Die Een wat ons leer is die Heilige Gees! Let op wat sê Jesus in
Johannes 14:26: “Wanneer die Vader in my Naam die Voorspraak,
die Heilige Gees, stuur, sal Hy julle alles leer.” Die Heilige Gees is die Een
wat ons “alles” leer, nog altyd! Die Gees deurgrond die dieptes van God se
wil vir ons, en is ook in ons die sugting en uitdrukking van die heiligste
waarhede en diepste liefde van God vir ons. Die Gees laat ons Jesus Christus
volg en die Vader aanbid in Jesus se Naam. Dit is deur die Heilige Gees alleen
dat ons hoegenaamd van God bewus is. En dit is ook deur die Gees waardeur
God ons nou vanuit ons diepste binneste lei. Die Gees woon in ons!

Bernard van Clairvaux het geleer dat ons nie soseer die “ondervinding” van
God moet soek nie, maar die God van ondervinding. Ons kan alleen die Jesus
manier van leef tot eer van God leer, deur stil te word sodat die Heilige Gees
ons in die waarheid van Jesus kan lei, met al die fluisteringe van die nabyheid
van God. Ons ondervind God nie omdat óns na ‘n belewenis van God soek nie.
God kom deur sy Gees na ons toe!

Dwight L Moody het gesê: “’n Mens kan net sowel probeer om sonder ore te
hoor of sonder longe asem te haal as om sonder die Heilige Gees ‘n Christelike
lewe te probeer lei.”
Inderdaad! Die Heilige Gees sal ons alles leer, sê Jesus!

Ernest