Jesus noem sy dissipels sy vriende! Johannes 15:14-15:
“Julle is my vriende as julle doen wat Ek julle beveel.
Ek noem julle nie meer ondergeskiktes nie, want ‘n
ondergeskikte weet nie wat sy baas doen nie. Nee,
Ek noem julle my vriende, omdat Ek alles wat Ek van
my Vader gehoor het, aan julle bekend gemaak het.”
Dit is merkwaardig wat hier gebeur. Jesus noem hulle sy
vriende en binne ‘n kwessie van ure sou sy vriende vas aan
die slaap raak terwyl Hy in Getsemane worstel oor wat vir
Hom voorlê. Toe sou hulle padgee die donkerte in terwyl
Jesus weggelei is om verhoor te word. Petrus sou by die vuur
ontken dat hy Hom ooit geken het. By die kruis was daar net
die man wat Hom liefgehad het en hierdie woorde neergeskryf
het, Johannes die dissipel, en dan ook sy ma en ‘n klompie
huilende vroue. Sy “vriende” was nie daar nie. In krisis verdwyn
“vriende” dikwels.
Tog sou die dissipels mekaar weer opsoek. Hulle sou hulle weer
verwonder oor al die gebeure by Jesus se kruis en graf. Na Jesus
se opstanding sou hulle hergroepeer. Hy sou ook weer aan hulle
verskyn! Genade! Hiervandaan sou hulle getrou bly en sy Naam
uitroep voor owerstes en almal wat wou luister. Hulle sou nie
weer terugdeins nie. Hulle sou werklik sy vriende wees, want,
en dit is belangrik, Hy sou saam met hulle wandel deur sy Gees!
Dit sou maak dat hulle deur die wonderlike krag van die Gees in
hulle aangedryf sou wees om oral in sy Naam te gaan! Gaan dan
na al die nasies toe...! Hulle sou in die moeilikste omstandighede
seker wees daarvan en ‘n verbintenis met Jesus aanvoel, waar
hulle ookal was. Hulle sou moed skep uit die wete:
Ek kén die Here! Hy noem my sy vriend! Hulle sou ‘n liefde aanvoel
wat hulle sou brand soos ‘n reinigende vuur.
Nou: Ons is ook dissipels van die Here. Ons kén Hom! Hy noem ons
sy vriende! Ons verdwyn ook soms wanneer ons by Hom en vir Hom
moet staan. Maar, soos met die dissipels van destyds, sny Hy ons nie
af nie. Hy laat ons nooit in die steek nie. Hy het ons waarlik lief.
Soos wat van ‘n ware Vriend verwag word! Dankie Here!
Ernest