Jesus staan voor Pilatus en Pilatus is nogal duidelik beïndruk
met hierdie gevangene. Maar hy weet nie wat hy met hierdie
man moet maak wat die Joodse owerstes voor hom gesleep
het nie. Charles Penguy het hieroor gesê dat “godsdiens hier
uiteindelik politiek word.” Pilatus dink aan politieke heerskappy,
maar klink tog simpatiek met “is jy die koning van die Jode?”
Hy suggereer dat hy maar min verstaan van die Jode. Hulle is
slegs maar onderdane van die Romeine.
Jesus stel egter nie belang in politieke heerskappy nie.
“My koninkryk is nie van hierdie wêreld nie,” antwoord Jesus.
“As my koninkryk van hierdie wêreld was, sou my onderdane
geveg het sodat Ek nie aan die Jode uitgelewer sou word nie.”
Joh. 18:36.
Jesus sê hiermee Hy is inderdaad ‘n koning, maar ‘n koning van
die waarheid, ‘n koning van die liefde, ‘n koning van ‘n koninkryk
wat al van voor die wêreld daar was en tot in ewigheid sal wees,
nadat Rome ook tot niet sal wees.
Pilatus verstaan niks hiervan nie en probeer Jesus loslaat. Hy was
sy hande in onskuld, al dra hy , soos ons, soveel skuld hieraan.
En Jesus word oorgelewer vir kruisiging... “Die soldate het ‘n
doringkroon gevleg en dit op sy kop gesit” – Joh. 19:2. Om in
ons plek te staan voor God, moes Jesus afdaal tot die diepste
van menslike ellende en daar word van Hom die uiterste
bespotting gemaak. Hy word die “gek” aan die kruis, die een
met wie die spot gedryf word. Die dwaas, die een met die kroon
van dorings, die een wat dink hy is die koning van die Jode...
Die soldate was onbekende “naamlose” mense in hierdie verhaal,
wat vir ‘n kort rukkie ‘n bietjie bespotting-mag gehad het. Hulle het
gou weer verdwyn. Maar hulle daad leef voort in elkeen wat deur
die eeue sou ontdek: Dit is óns...vir óns hang Jesus daar. Ter wille
van ons dra Hy die spot en die hoon. Vandag nog is die man aan die
kruis vir baie ‘n “gek”, en word hy steeds gespot. Maar die kruis en
die “Gek” leef voort, en deur sy Naam word mense steeds deur die
eeue gered en geraak! Hy word nog steeds deur miljoene verwerp,
en ook deur miljoene aanbid. En soos Jesus die spot aan die kruis
deurstaan het, sal Hy ook vandag se spot, en in die toekoms die
spot hanteer. Hy is toe die een wat regeer!
Eendag sal selfs die spotters van die eeue dit moet bely dat God
Hom tot die hoogste eer verhef het en Hom die Naam gegee het
wat bo elke Naam is, “sodat in die Naam van Jesus elkeen wat in
die hemel en op die aarde en onder die aarde is, die knie sou buig,
en elke tong sou erken: “Jesus Christus is Here!” tot eer van God
die Vader.” – Fil. 2:9-11.
“Hy het geword wat ons is, sodat Hy ons voor God kon maak
wat Hy is” – Athanasius.
Waar staan jy met Jesus? Koning van jou lewe...of bespotting,
deur jou lewe?
Wanneer jy niks te sê het oor Jesus Christus met jou woord
en daad nie, het jy regtig niks te sê nie...
Ernest