Diepste hartseer is ook deel van ons lewe.
Neem nou maar Maria, die moeder van Jesus.
Dink aan die lyding wat Jesus vooraf moes deurgaan,
en dan staan sy ook aan die voet van die kruis. Ook Maria,
die moeder van Jesus, is nie hartseer gespaar nie. Die toneel
by die kruis gryp jou aan. Maria staan daar saam met ander
huilende vroue. ‘n Swaard het deur haar hart gegaan, soos die
ou profeet Simeon in die tempel jare tevore al voorspel het,
sal gebeur.

Maria het Jesus versorg as haar kind. Sy het Hom tot in Jerusalem
gevolg. Josef, Jesus se aardse vader, is waarskynlik vroeg al oorlede.
Nou is sy alleen-ouer by Hom aan die voet van die kruis. Sy aanskou
sy verlatenheid en pyn en aardse einde.
Sterwende síén Jesus haar, sy treurende moeder. Hy sien ook sy
geliefde dissipel Johannes en sê: “Daar is u seun.” En vir Johannes sê Hy:
“Daar is jou moeder.” Dit is as’t ware Jesus se aardse testament. Die sorg
van ‘n vriend vir sy moeder. Vreemde tonele speel hier af op Golgota.
Vreemde paaie van God kruis Maria se lewe. In haar loflied sing sy in
Lukas 1:46-47: “Ek besing die grootheid van die Here, ek juig oor God
my Verlosser...Kyk, van nou af sal elke nuwe geslag my gelukkig noem...”
Nou ween Maria by die kruis.

Vreemde paaie van God kruis ook met ons lewe. Ons is ook deel van ‘n
misterie wat groter is as ons. Ons mis dikwels die erkenning van die
geheimenis wat soveel groter is as ons, en wat besig is om met of deur
ons te gebeur. God, deur ons en met ons, aan die werk. God wat God is,
en besig is met sy ewige werk. Pyn en genade vleg dikwels onverklaarbaar
deurmekaar, en ineen, in ons lewe. Dood is naby lewe. Neerlaag is naby
oorwinning. Trane is naby aan troos. En in alles is God by ons.

Maria gaan saam met Johannes huis toe... wanneer dit donker word op Golgota.
En wanneer dit vir ons finaal donker word op aarde...gaan óns saam met Jesus...
huistoe, waar ons hoort, ons ewige woning by die Vader, saam met Hom.

Ernest