Petrus en Johannes het die leë graf gesien.
Johannes sê selfs hulle het “geglo’ maar hulle het weer
huis toegegaan omdat hulle hierdie unieke gebeure nie
kon “verstaan” nie. Al het Jesus hoeveel keer daaroor
gepraat. Wie kan hulle kwalik neem?

Die opstanding is ‘n geloof met ‘n blydskap! Die oortuiging
dat alles vir God moontlik is. ‘n Oopstelling van jouself vir
‘n misterie wat ‘n feit is. Niks staan in God se pad nie.
Maria Magdalena het toe vir die dissipels gaan sê:
“Ek het die Here gesien!” – Joh. 20:18. By Jesus se verskyning
was daar geen gedrang van ‘n skare nie. Dwarsdeur die Bybel
blyk dit duidelik dat God spaarsaam met groot skares werk.
Groot skares is wispelturig. Maklik beïnvloedbaar. Meestal
sonder diepte.
Jesus praat met Magdalena. Sy herken Hom. Uit ‘n vroulike
skoot is Jesus gebore en deur ‘n vroulike volgeling is Hy eerste
uitgeken. Wat volg is ekstase!

Omdat hulle bang was vir die Jode het die dissipels die deure
gesluit. Hulle was immers nog gemerkte manne. Hulle is saam
soos skape wat op hulle herder wag. Skielik kom Jesus deur die
geslote deur en staan tussen hulle: “Vrede vir julle!”
Hierdie liggaam is nou in ‘n dimensie wat nie vasgehou kan word
nie. Tog is sy wonde nog sigbaar. Hy verskyn en verdwyn.

Groot denkers bespiegel hieroor: Christus maak Homself kenbaar
en verstaanbaar, maar begin Homself “liggaamlik” onttrek omdat
die tyd en dimensie van die Heilige Gees begin aanbreek.
Thomas Aquinas het geskryf dat dit die sleutel bied van hoe ons
na ons dood sal lyk. Maar Jesus was uniek. Een ding is seker:
Ons persoonlikheid, die essensie van wie ons is, sal verrys, ook al
laat ons ons “tentwoning” hier agter. Ons kry ‘n “nuwe liggaam”
wat God ons gee. En vandag, met ons nog in hierdie liggaam,
kom Jesus en sê: “Vrede vir jou.”
Dankie, dankie Here!

Ernest