Die Bybel leer ons die twee kante van vergifnis:
Omdat God jou vergewe, moet jy weer ander vergewe.
So sê Kol. 3:13 byvoorbeeld: “Wees geduldig met mekaar
en vergewe mekaar as die een iets teen die ander het. Soos
die Here julle vergewe het, moet julle mekaar ook vergewe.”
Nie altyd maklik nie! maar ons kan en moet, deur die krag van
die Here en deur die Gees wat ons lei daarin.

Walter Wangerin help ons met ‘n paar stappe waaroor hy in sy
boeke skryf ten opsigte van vergifnis:
Die eerste is: Wees realisties. Wie en wat moet ek vergewe? Fokus
op die spesifieke gebeure en op wie jou seergemaak het. Vergifnis
het altyd ‘n gesig. Deel jou gevoelens. Moenie dit onderdruk nie.
Die tweede is: Jy moet van jou eie vergifnis bewus wees voordat jy
iemand anders kan vergewe. Besef hoe dikwels jy self die ontvanger
van God se vergifnis was, en steeds is. Hierdie besef is ‘n gelykmaker.
Jy ontdek dat die persoon wat jy moet vergewe maar net so foute
maak soos jy.
Die derde is: Offer jou gevoelens van weerwraak op in gebed aan God.
Dit is dikwels die moeilikste. Vergifnis laat jou die weerwraak gedagte los.
Weerwraak kweek net bitterheid. Vergifnis hou nie boek van die kwaad nie.
Die vierde is: Vergewe die persoon wat jou seergemaak het doelbewus deur
jou seer voor daardie persoon te gaan neersit en te sê dat jy die persoon
vergewe. Hierdie is nie ‘n redenasie oor wie reg of verkeerd was nie, maar dat jy
jou gevoel deel, ongeag wie reg of verkeerd was. Vergewe dan onvoorwaardelik.
Die vyfde is: Volg woorde met dade op. Wangerin sê: “Identifying a wrong and
voicing forgiveness, for it is worth nothing if your behaviour continues to punish
the offender.” Bedoel jou vergifnis deur dit uit te leef!

Iemand het gesê: Ons is die meeste soos diere wanneer ons doodmaak;
die meeste soos mense wanneer ons ander oordeel; die meeste soos God
wanneer ons vergewe.
Augustinus het gesê: As jy onder ‘n slegte persoon se onreg ly, vergewe hom,
anders is daar twee slegte persone. Die genot van vergifnis is groter as die van wraak.
“Nooit vertoon ons die beeld van God so helder nie, as wanneer ons onreg teenoor
onsself volkome kan vergewe.” – Johannes Chrisostomus.

Ernest