Versoening volg altyd op vergifnis. Versoening vind nie vóór
vergifnis plaas nie. Daar kan wel vergifnis wees sonder versoening,
maar nie ware versoening sonder vergifnis nie. As ons dit verstaan
gaan ‘n wêreld vir ons oop. Vergifnis en versoening gaan nie áltyd
hand aan hand nie. Ons kan dink vergifnis is nie eg sonder versoening
nie, maar dit is nie so nie.

Die volgende stellings van Lewis Smedes help ons om dit te verstaan:
“It takes one person to forgive. It takes two to be reunited”
(om te versoen).
“Forgiving happens inside the wounded person. Reunion (versoening)
happens in a relationship between people.”
“We can forgive a person who never says he is sorry. We cannot be
truly reunited (versoen) unless he is honestly sorry.”
“We can forgive even if we do not trust the person who wronged us
once not to wrong us again.”
“Reunion (versoening) can only happen if we trust the person who
wronged us not to wrong us again.”

Ons moet altyd gereed wees om te vergewe.
Maar wat van versoening wat moet volg op vergifnis?
Versoening beteken om ook te gaan regmaak wat jy verkeerd gedoen
het, sover jy menslik moontlik kan. Ek kan nie jou pen steel en sê ek is
jammer, en vergifnis vra, en dan jou pen hou nie. Dan is ek nie opreg
in wat ek bedoel nie. Ware berou sal die pen teruggee. Eers dan kan
versoening plaasvind. Vergifnis van jou kant af kan egter plaasvind,
al hou ek die pen. Wanneer ons vergewe, het ons een hindernis van
versoening uit die weg geruim. Versoening hang van die vergeefde
persoon af.

Dit alles help ons om God se genade nog meer te verstaan, al sou ons
dit seker nooit ten volle kon verstaan nie. In die verhaal van die verlamde
man, in Markus 2, wie se vriende hom deur die dak laat sak het, word die
verlamde man se sonde deur Jesus vergewe, sonder dat hy gesê het hy is
jammer oor sy sonde. Dit laat ons iets verstaan van die wonderlike van
God se groot genade. Hy vergewe ons lank voor ons vir Hom sê ons is
jammer. Ons dink ons móét vir vergifnis vra voordat ons vergewe kan word.
Eers wanneer ons vir vergifnis gevra het, eers dan is ons vergewe, maar dit
is nie so nie. Wat van die sonde wat jy nié kon bely voor jy byvoorbeeld
onverwags in ‘n motorongeluk gesterf het nie. Baie kinders van die Here
sterf met on-belyde sonde! Maar, Christus het reeds vir die vergifnis van
ál jou sonde gesterf. Versoening vind plaas tussen jou en God wanneer jy
kom sê jy is jammer.
Dit word ook met die gelykenis van die verlore seun geïllustreer in Lukas 15.
Die pa wat hom kláár vergewe het, het gewag vir sy terugkeer en toe was
daar die wonderlike versoening.

Sodra jy met God versoen is, gee Hy nou aan jou die wonderlike werk van
die bediening van die versoening om te gaan dóén, te gaan bedien!
2 Korintiërs 5:18-19: “Dit alles is die werk van God. Hy het ons deur Christus
met Homself versoen en aan ons die bediening van die versoening toevertrou.
Die boodskap van versoening bestaan daarin dat God deur Christus die wêreld
met Homself versoen het en die mense hulle oortredinge nie toereken nie.
Die boodskap van versoening het Hy aan ons toevertrou.”
The Message vertaal:
“All this comes from the God who settled the relationship between us and Him,
and then called us to settle our relationships with each other.”

Ernest.