Sodra jy en God versoen is, het Hy vir jou werk om te doen –
die bediening van die versoening met God. Dit is nie versoening
self nie, maar net die boodskap van die versoening met God.
Ons kan tog nie die versoening met God bewerk nie. Ons kan dit
net ontvang. Versoening is alleen God se werk. Dit het duur gekos...
bloed gekos...Jesus se bloed.

Frederick Buechner skryf oor liefde wat versoening bring.
Hy sê daar is verskillende soorte liefde:
Eerste; Die liefde van gelykes. ‘n Vriend vir ‘n vriend, ‘n broer vir
‘n broer. Om lief te hê wie jou liefhet. Soort van vanselfsprekende liefde.
Tweedens is daar die liefde vir hulle wat minder as ons het. Dit is mooi
vir die wêreld en spreek die wêreld aan. Dit is liefde vir hulle wat swaarkry.
Die armes, die siekes, die wat misluk het. Dit is ‘n omgee liefde en dit raak
die hart van die wêreld.
In die derde plek is daar liefde wat baie meer vra van die mens. Die liefde
vir hulle wat “meer as jy het”. Hulle wat sukses het waar jy misluk. Om
sonder jaloesie lief te hê, en verheug te wees saam met hulle wat verheug
is en soveel meer as jy het. Dit is die liefde van die armes vir die wat ryk is.
Die liefde van die swart man vir die wit man. Dit is die liefde vir hulle wat
bevoorreg is, deur hulle wat benadeel is. Die wêreld word verras deur
hierdie liefde. Dit is nie vanselfsprekend nie.
En dan is daar in die vierde plek die liefde vir jou vyand. Die liefde vir hom
wat jou glad nie liefhet nie. Die liefde vir die een wat jou doelbewus kwaad
doen. Wat jou dreig en pyn toedien. Die liefde van die martelaar vir hom
wat jou martel. Dit is God se liefde vir ons! Ons wat Hom so seermaak met
ons sonde dat dit Jesus se dood kos. God het ons reeds liefgehad toe ons
nog sy vyand was! Dit is die liefde van Romeine 5:10-11:
“Aangesien ons, toe ons nog vyande was, deur die dood van sy Seun met
God versoen is, staan dit soveel vaster dat ons, noudat ons versoen is,
deur die lewe van sy Seun gered sal word. Maar dit is nie al nie. Ons verheug
ons ook in God deur ons Here Jesus Christus, deur wie ons nou die versoening
ontvang het.”

Hierdie is God se liefde vir ons en dit oorwin die wêreld! Dit is die versoening
wat ons moet bedien! Dit is die liefde waarmee ons moet liefhê.
Onvoorwaardelike liefde!

Ernest