In 2 Korintiërs 5:18 gebruik Paulus ‘n interessante woord om
God se versoening na mense te bring: “Dit is alles die werk van God.
Hy het ons deur Christus met Homself versoen en aan ons die bediening
van die versoening toevertrou.” Die woord “bediening” is betekenisvol.

Om dit beter te verstaan kan hierdie woord vergelyk word met ons
woord “kelner”. Wat deur die kelner bedien word, is deur ‘n kok voorberei.
‘n Kelner bring eers die spyskaart en daarna die kos. Hy stel nie die spyskaart
op nie, en hy berei ook nie die kos voor nie. Hy het in essensie nie daarmee te
doen nie. Die kelner kan jou vertel van die disse, dat hy al daarvan geproe het,
dat dit aan te beveel is, en so meer. Maar hy skep nie self die disse nie. So is dit
ook met ons bediening van die versoening.
Ons bring die boodskap van versoening aan die wêreld, oral waar ons leef.
Versoening is egter God se werk. Daarom is versoening tussen mense altyd
moontlik, want niks is vir God onmoontlik nie. Ons moet dit net bedien!

Dat niks ten opsigte van versoenig vir God onmoontlik is nie, word
geïllustreer in hierdie ware gebeure:
‘n Turkse offisier het op ‘n dag die huis van ‘n Armeense gesin rot en kaal besteel.
Hy het die ouers doodgeskiet, die jong dogters deur sy manskappe laat verkrag,
en die oudste dogter self verkrag. Die dogters is saam met die soldate weggevoer
vir verdere “gebruik”. Uiteindelik het die oudste dogter ontsnap en later jare as ‘n
verpleegsuster gekwalifiseer. Na heelwat jare verloop het, het sy begin werk in ‘n
hospitaal waar Turkse offisiere soms verpleeg is. Sy het by een geleentheid die gesig
van die berugte offisier herken wat hulle lewens as’t ware verwoes het.
Hy was baie ernstig siek. Hy sou sterf sonder genoegsame en toegewyde behandeling
en versorging. Die dae het verbygegaan en hy het herstel. Op ‘n dag het die dokter
saam met haar by die bed van die offisier gestaan en vir die offisier verduidelik dat as
dit nie vir haar toewyding as verpleegsuster was nie, hy sou sterf. Die offisier het stip
na haar gekyk en gesê: “Ons het al iéwers ontmoet...” Sy het hom vertel waar en hoe,
en sy geheue verfris... Geskok het hy gevra: “Hoekom het jy my nie doodgemaak nie?
Dit sou vir jou die maklikste ding op aarde wees?” Haar antwoord was:
“Ek is ‘n volgeling van Hom wat gesê het: “Jy moet jou vyande liefhê.” Ek was ook sy
vyand en Hy het my tot die dood toe liefgehad. Hý het ook jou lief.”

Dit is die bediening van die versoening. Dit gaan die menslike verstand te bowe.
Ons kan dit nie doen nie. Vers 18 begin immers met die woorde:
“Dit alles is die werk van God...”
Jy is spesiaal vir God, en Hy stuur jou met ‘n spesiale bediening:
Die bediening van die versoening.
Ons is net “kelners” wat ander bedien met die vergewende
en versoenende Jesus-liefde wat ons ontvang het...

Ernest