“God het ons dan nou vrygespreek omdat ons glo.
Daarom is daar nou vrede tussen ons en God deur ons
Here Jesus Christus.” – Romeine 5:1. Hierby staan of val ons geloof.
Jy is vrygespreek! Jy is regverdig verklaar deur God Self! Hy alleen
kan dit doen, en Hy doen dit in Christus vir jou. Dáárom is daar nou
vrede tussen jou en God, deur die Here Jesus Christus! God doen alles!

Hierdie regverdiging deur God beteken die lewe deur die geloof uit die
genade alleen. Luther het gesê as hierdie waarheid uit die kerk verdwyn
sluip allerhande dwaal-leringe in. Wanneer jy nie verstaan dat dit God is
wat jou vrygespreek het nie, en regverdig verklaar het nie, probeer jy jou
hele lewe lank alles in jou vermoë om “God tevrede te hou” sodat jy in die
hemel kan kom. God het alles klaar gedoen!
Jy moet dit net in geloof aanvaar en nou reeds as kind van God vrygespreek
gaan lewe! God het ons ook nie net geskep om hemel toe te gaan nie, maar
om sy verteenwoordigers op aarde te wees. Genesis 1:27 beklemtoon dit.

Om vrygespreek te wees in die Here Jesus Christus beteken dat daar geen
rekords meer van jou sondige verlede op lêer bestaan nie. God Self het dit
uitgewis! Paulus se woord “vrygespreek” of “geregverdig” is ‘n regsterm
wat uit die destydse hofprosedure oorgeneem is. Oor elke mens moet daar
‘n regsaak van God se kant af gehou word, want as gevolg van ons sonde
verdien ons die ewige dood. Ons is almal skuldig. Romeine 3:10:
“...Daar is nie een wat regverdig is nie, selfs nie een nie...”

Hoe lyk hierdie hofverrigtinge?
In die regterstoel sit God die Vader. In die beskuldigdebank staan ons.
As advokaat vir die verdediging tree Jesus op. In die getuiebank staan
die Heilige Gees. Let op: Daar is geen aanklaer nie. Verkeerdelik word
die duiwel dikwels in hierdie rol gesien. Maar in hierdie hofsaak is daar
nie plek vir leuens nie, en die duiwel is die vader van die leuen. Al wat
hy oor jou en vir jou wil vertel is leuens! Daar is geen plek vir die duiwel
hier in God se teenwoordigheid nie.
Jesus het reeds in ons plek die prys kom betaal wat vereis word vir ons
oortredinge. Die loon van die sonde is immers die dood. Maar in Jesus
word ons nou vrygespreek deur God! Ons leef verder onder leiding van
die Heilige Gees en dra die vrug van die Gees.

Niks kan ons ooit weer skei van die liefde van God, die liefde wat daar
is in Christus Jesus ons Here nie! – Romeine 8:38-39.
Vers 37 beklemtoon: Ons is meer as oorwinnaars deur Hom wat vir ons
liefhet! Vir die res van jou lewe is jy ‘n vry mens... nou, en vir altyd!
Die Christelike geloof het niks te doen met wat óns vir God kan doen nie,
maar met álles wat Hý vir ons gedoen het. Alles is gratis genade!
Al wat die Here van jou vra ten opsigte van jou vryspraak is om dit met
verwondering te aanvaar, en met dankbaarheid te vier, deur jou hele
lewe vir Hom te leef!

Ernest