“Julle is die sout vir die aarde...” – Matteus 5:13.
Ons, wat God se geseëndes is, volgens Matteus 5:3-12,
moet nou in die wêreld waar ons elke dag lewe bewys gaan
lewer van ons verhouding met die Here. Wanneer ons in volkome
afhanklikheid van die Vader die regte gesindheid en leefstyl uitleef,
sal ons manier van lewe ‘n groot verskil maak in ons konteks waarin
ons lewe. Elkeen is sout, daar waar jy leef! Ons is die mense deur wie
God lewe aanbied vir ‘n sterwende wêreld.

Jesus gee nie sy volgelinge ‘n keuse oor die manier waarop hulle
‘n verskil moet maak nie. Hy sê nie wat ons “behoort te wees” nie.
Hy sê ook nie ons kan dit “by geleentheid wees” nie. Jesus stel ‘n feit:
Julle is! Al wat ons nou verder kan doen is om vas te stel wat Jesus
daarmee bedoel, en dit dan te gaan wees!

Sout is bederfwerend.
Die dissipels was onder andere vissers en het geweet dat sout verseker
bederf teëwerk. Vis is gou ingesout nadat dit gevang is om bederf tee te
werk. Dit sal ook gebeur dat die boodskap van Jesus wat ons bring soos
sout sal brand in ‘n wond om verrotting tee te werk. Ons is nie altyd gewild
met die boodskap wat ons bring nie. Dissipels van Jesus kan egter nie
draadsitters wees nie. Ons is sout! Die wêreld sal nooit in ‘n ongestoorde
verhouding met volgelinge van Jesus leef nie. Onthou, sout verdoem nie,
maar bewaar. Ons moet net in die praktyk wees wat Jesus sê ons reeds in
beginsel in Hom is.

Sout gee smaak.
Ons raak laf, soos sout laf raak, wanneer ons wêreldgelykvormig raak, of
wêreld-sku raak. Ons moet nie soos die wêreld raak nie, en ook nie afgesonder
van die wêreld probeer leef nie. Ons roeping is in die wêreld. Die sout beteken
niks as dit net in die soutpot is nie. Dit moet gestrooi word om effek te hê.
Sout word ingemeng, ingevryf, ingeknie. Wêreldgelykvormige mense verloor
egter hulle harte ín die wêreld, en wêreld-sku mense sluit weer hul harte vir
die wêreld. Jesus se dissipels het ‘n hart vir die wêreld. Ons het deernis vir die
wêreld met die liefde van die Here vir die wêreld.

Is jy sout vir die wêreld, of dryf jy maar saam met die stroom? Werk jy aktief
bederf tee? Gee jy smaak aan die wêreld? Of is jy wêreld-sku? Ons is God se
verteenwoordigers in die wêreld! Gaan maak die verskil wat God deur jou wil
maak in hierdie wêreld! Want só lief het God die wêreld gehad...
dat Hy Jesus stuur, en dat Jesus jou stuur!

Ernest