“Julle is die lig vir die wêreld...” – Matteus 5:14.
Die funksie van lig is om lig te maak! Donkerte kan
lewensbedreigend wees. Nou sê die Bybel by herhaling dat
die wêreld donker is. Die rede vir die duisternis: Sonde!
Sonde laat ons koers verloor en verlore gaan. Ons wat God se
kinders is, verteenwoordig lig! Ons het nie net lig nie.
Ons is self lig! Ons maak lig! Ons skyn! Efesiërs 5:8-9:
“Vroeër was julle die ene duisternis, maar nou in die Here ís julle lig.
Leef dan as mense van die lig. Uit die lig kom alles voor wat goed en
reg en waar is.” Ons ís lig! Dat ons lig is, verwys na ons roeping en
onmiskenbare getuienis-opdrag wat die Here ons gee. Ons is soos
die maan wat die lig van die son weerkaats. Ons kan nie anders nie.
Daarom sê 2 Korintiërs 4:6: “God wat gesê het “laat daar lig skyn uit
die duisternis”, het ook in ons harte ‘n lig laat skyn om ons te verlig
met die kennis van die heerlikheid van God, wat van Jesus Christus
uitstraal.” Die lig wat ons skyn is God se lig in ons. Hoe?

Heel eerste moet ons doen! Doen soos om met ons hande en ons voete,
“boots and all”, by die werke van sout en lig betrokke te raak. Die Bybel noem
dit goeie werke wat God deur ons wil doen in hierdie wêreld. Doen, en praat,
en bid, en gee. Ons verdien nie ons saligheid met goeie werke nie. Maar ons
moet ook nie so vroom-vroom en skynheilig raak soos die Fariseërs nie.
Naderhand doen ons niks omdat ons nie ons saligheid kan verdien nie.
Net soos hulle alles gedoen het om saligheid te verdien. Hulle met goeie
Werke, en ons sonder goeie werke. Albei vroom-verkeerd.

Sout en lig moet gedoen word! Sout werk wanneer dit ingemeng word,
deel word van dit wat moet verander. Lig werk wanneer dit skyn waar daar
nie lig is nie. Dit word nie voorgepraat nie, maar voorgeleef! Paulus sê in
Filippense 2:15-16 dat ons moet optree as ligdraers in die wêreld deur aktief
die woord van die lewe uit te dra.

Om sout en lig te wees is ‘n offer. Ons is nie op selfbehoud uit nie, maar offer
onsself in selflose diens vir die koms van die koninkryk van God. Die “self” moet
verdwyn. Sout gee dit self en lig gee dit self om sout en lig te wees. Dit moet
vermeng en geoffer word. Daarom moet ons onthou: Te midde van ‘n wêreld
wat verstom met skouspelagtige vooruitgang, op die oog af, besit ons as kinders
van God ‘n inherente daadkrag, doenkrag, wat juis ‘n wêreldse verskil maak,
inderdaad ‘n hemelse verskil maak. Een kers verdryf die duisternis om hom.
En al die duisternis in die wêreld kan nie een kers uitdoof nie.
Skyn!

Ernest