As jy nog nie weet presies wat Jesus se beskouing van die wet is nie,
is jy self dalk nog die gevangene van ‘n wet. ‘n Wet wat jy self maak
van dié wet van God.
Jesus is ‘n Man vir die wet. Hy sê: “Moenie dink Ek het gekom om die
wet of die profete ongeldig te maak nie. Ek het nie gekom om hulle
ongeldig te maak nie, maar om hulle hulle volle betekenis te laat kry...
Wie dan ook een van die geringste van hierdie gebooie ongeldig maak
en die mense so leer, sal die minste geag word in die koninkryk van die
hemel...Ek sê vir julle: As julle getrouheid aan die wet nie meer inhou
as dié van die skrifgeleerdes en die Fariseërs nie, sal julle nooit in die
koninkryk van die hemel ingaan nie.” Lees gerus Matteus 5:17-20.
Waarom het God die wet gegee, en wat het die profete presies verkondig?
God het sy verhouding met sy volk ‘n verbond genoem. Die wet was deel van
die verbond. Die wet is wat God gegee het en wat daartoe gelei het dat die
verhouding tussen God en sy volk sinvol kon verloop, tot eer van God. Die wet
is die riglyn vir ‘n lewe saam met God en vir God. Die mens kon dit vanweë die
sonde nie uitleef nie en God gee hiervoor uitkoms met die offer-praktyk. Dit het
juis God se verbonds-liefde vir sy kinders beklemtoon! As gevolg van ons sonde,
het God nou die onmoontlike, om dit ten volle na te kom, versag deur die nuwe
moontlikheid wat God self bied: die skuldoffer! Uiteindelik word Jesus die
volmaakte Lam wat as skuldoffer geoffer word aan die kruis, vir my in my plek!
Die plaasvervangende soenoffer!
Wat kom doen die profete in die Ou Testament?
Hulle kom herinner die volk, en ons, aan ons skuld by God. Hulle roep ons op tot
‘n eerlike verhouding met God. Hulle beklemtoon by herhaling dat gehoorsaamheid
aan God beter is as offerhande. Hulle vertel ook bo alles van dié volmaakte Offerlam
wat sou kom en die skuld van die mens op Hom sou neem.
So word die allesoorheersende wyse waarop Jesus aan die wet sy volle betekenis gee,
sy offer aan die kruis! Juis omdat die mens dit nie regkry om aan die wet te voldoen nie,
vanweë ons sonde, juis daarom word die wet ons aanklaer.
Die Fariseërs het alles in hulle vermoë gedoen, en selfs wette bygevoeg, om daaraan
te probeer voldoen, maar hulle kon nie. Uiteindelik dien hulle die “wet” in plaas van God.
God stuur Jesus om in ons plek die wet uit te leef, en in ons plek die offer aan die kruis te
dra. Hy neem ons skuld op Hom en vereffen ons skuld volledig: dit is volbring!
Hy neem die volle wet op Hom, en betaal ook die volle prys aan die kruis. Wanneer Hy
dus die wet “vervul”, beteken dit Hy is volkome, in ons plek, gehoorsaam aan die eise
van die wet! Hy neem die skuld van die betaal daarvan van ons skouers af.
Die wet en die profete leer dit en berei ons daarop voor. In Israel, in die Ou Testament,
het die wet en die offer onlosmaaklik saam geloop. So kom gee Jesus nou in die Nuwe
Testament die volle betekenis daaraan. Hy word uiteindelik die Hoëpriester van die
Nuwe Testament. Die Middelaar wat vir ons intree by die Vader. So gee Jesus volle
betekenis aan die wet en kan ons vry raak in Hom, én kan ons “getrouheid aan die wet...
meer inhou as dié van die skrifgeleerdes en die Fariseërs...” – Mat. 5:20.
Ons kan net uitroep, en uitleef: Dankie Here! Dankie, dankie Here!
Ernest