Wat beteken Jesus se vervulling van die wet vir ons?
Ons het nou gesien dat die wet en die profete volle betekenis
kry omdat Jesus ‘n brug bou na God toe. Ons kon nie, kan nie,
en hoef nie meer ‘n brug na God te bou deur gehoorsaamheid
aan die wet nie. Ons is nou vry om die wet uit te leef en ons doen
dit uit dankbaarheid vir die brug wat Jesus gebou het.

Die vervulling van die wet het in die eerste plek met Jesus as Persoon
te doen. Hy stel nie net vir ons ‘n voorbeeld nie. Hy is persoonlik die
vervulling van die wet! Net Hy kan in my plek die skuld vir die oortreding
van die wet betaal. In Matteus 5:17-20 is die woorde “Ek het gekom...”
baie belangrik. Jesus se koms as Persoon is uiters belangrik. Net Hy kan in
my plek fisies aan die kruis sterf om vir my skuld te betaal. Jesus se koms
maak die verskil. Die vervulling van die wet het dus onlosmaaklik met geloof
te doen. Slegs as ek in Jesus se kruisverdienste glo en Hom alleen as my
Verlosser aanvaar, kan ek leef asof die wet vervul is! Anders moet ek mos
nog my eie brug na God probeer bou...

In die tweede plek het die vervulling van die wet met God se nuwe ryk te doen.
Jesus kom as Koning! Na sy koms staan alles nou in die teken van dié Koning se
heerskappy en sý ryk. Jesus vertel ook by herhaling dat sy ryk eers by sy weder-
koms voltooi en afgerond sal word. Daarom sê Jesus ook in Matteus 5:18:
“Dit verseker Ek julle: Die hemel en die aarde sal eerder vergaan as dat een letter
of letterstrepie van die wet sal wegval voordat alles voleindig is.” Let op die woorde:
“...voordat alles voleindig is.” Jesus het die wet en die profete vervul sodat ons as
burgers van God se nuwe ryk vir die finale koms van die koninkryk gereed kan maak.
Ons leef uit dankbaarheid in die voetspore van Jesus!

In die derde plek het die vervulling van die wet betekenis vir die manier waarop ons
as burgers van Jesus se nuwe ryk moet lééf! Waar die Ou Testamentiese wet dreig
om die lewe uit ‘n mens te wurg, is die vervulde wet wat in Jesus sy volle betekenis
gekry het, soos ‘n suurstofmasker wat jou láát lééf! Jesus roep ons op om voluit vir
Hom en sy ryk te leef. Hy sê dan ook uitdruklik dat hulle “...wat die wet gehoorsaam
en ander só leer...” hoog geag sal word in die koninkryk van die hemel. Die wet moet
gelewe word. Dit doen ek in Christus wat nou die Here van my lewe is! Hy vra volle
heerskappy van my lewe en maak dit ook moontlik deur die Heilige Gees wat in my
kom woon. Ek in Christus en Christus in my.

Daar is verskillende maniere om die wet te oorbeklemtoon ten koste van Jesus se
vervulling van die wet. ‘n Wettiese mens is liewer vir die reëls, as vir die mens en
die Here. ‘n Moralis is verlief op voorskrifte omdat hy/sy vertrouens-verhoudinge
wantrou. Die fundamentalis is verslaaf aan sy/haar gemaksone en vermy dus nuwe
situasies wat ongemaklike vrae stel.

Om die wet uit te leef beteken om ten volle onder die heerskappy van Jesus te leef,
wat die wet sy volle betekenis kom gee het, en om meer en meer soos Jesus te leef,
en in daardie opsig vry te wees! Lees verseker in hierdie opsig Markus 2:23-28.
Hierdie gebeure het Jesus laat reageer met die woorde van vers 27-28:
“Die sabbatdag is vir die mens gemaak en nie die mens vir die sabbatdag nie.
Daarom is die Seun van die mens Here óók oor die sabbat.”
“If Jesus is not Lord of all, He is not Lord at all”.

Ernest