Vanuit ‘n “wêreldse” oogpunt raak die bergrede net moeiliker en moeiliker.
Dink maar aan uitsprake soos: “Julle moet julle vyande liefhê...” en “As
iemand jou op die regterwang slaan, draai ook die ander wang na hom...”
Om te verstaan hoekom die bergrede vir ons “moeiliker” raak, moet ons
opnuut die volgende onthou:
Ons moet verstaan dat die bergrede bedoel is vir mense wat ‘n keuse vir
Jesus as Here van hul lewe maak.
‘n Keuse vir Jesus is dus ‘n keuse vir God se koninkryk. Dit is ‘n ryk waar
ons volgens die wil van ons Koning leef.
Die lewensstyl van Jesus se dissipels is sonder twyfel heeltemal anders as
die van die wêreld.
Hierdie andersheid bestaan hoofsaaklik in ‘n lewe van opoffering en
selfverloëning.
Daarom moet elkeen homself/haarself afvra:
Is ek bereid om hierdie keuse te maak? En indien ek reeds die keuse
gemaak het, is ek bereid om volgens dié lewenstyl van my Koning te lewe?
Ons het gesien dat die skrifgeleerdes en die Fariseërs die wet en profete op hulle
eie manier geïnterpreteer en uitgeleef het. Dit het die heersende godsdienstige
beskouing van hulle tyd geraak. Ongelukkig het hulle die wet hiermee kragteloos
gemaak omdat hulle die wet in húlle diens gestel het, eerder as om God met die
wet te dien. Hiermee was hulle nie aan die bedoeling van die wet gehoorsaam nie.
Die wet was van die begin af deur God bedoel as “jy moet God bo alles liefhê
en jou naaste soos jouself.” Dit is hoe Jesus dit ook in ‘n neutedop saamvat.
Daarom het Jesus gesê ons wetsgetrouheid moet meer inhou as die van die
skrifgeleerdes en Fariseërs. Nou gaan Jesus van Matteus 5:21 af verder en
verduidelik aan sy dissipels wat dit in praktyk beteken om getrou aan die wet
te wees. Dit beteken om in die eerste plek getrou aan God te wees!
Jesus begin direk by die lewe van jou medemens in vers 21-22: “Julle het gehoor
dat daar van die ou tyd af aan die mense gesê is: “Jy mag nie moord pleeg nie...
Maar Ek sê vir julle: Elkeen wat vir sy broer kwaad is, is al strafbaar...Verder,
elkeen wat sy broer uitskel vir ‘n gek, is strafbaar...en wie hom uitskel vir ‘n idioot
is strafbaar...” Nou maak Jesus dit in die alledaagse lewe “moeiliker” as “jy mag nie
moord pleeg” nie. Ons sê maklik dinge soos: “Hy is ‘n idioot...”, of ons vloek mense,
of wens hulle dinge toe, of stuur hulle “hel” toe...
Jesus sê dit is opsigself al ‘n oortreding van die sesde gebod van “jy mag nie moord
pleeg nie.”
Jesus sê daarmee dat God se wil is dat ons die lewe van ons medemens kosbaar en
heilig moet ag. Geskep na God se beeld. God is die Gewer van lewe. Lewe behoort
aan God. Lewe is vir God só kosbaar dat Hy sy Seun opoffer, dat die mens kan leef!
In ons verhouding met ons medemens staan ons iewers op ‘n skaal tussen
lewensverryking en lewensverlies, deur ons optrede teenoor mense. Ons is besig
om by te dra tot lewenskwaliteit, of om lewenskwaliteit af te breek. Godgegewe lewe.
Deur byvoorbeeld niks vir ons medemens te doen nie, terwyl ons kan help, is verlies
aan lewenskwaliteit. So dra ons by tot ons medemens se swaarkry of ondergang.
Wat meer is: Die daad, of gebrek aan die daad, se oorsprong lê in ons hart. Dit is
Hieroor wat Jesus praat! Die gesindheid van jou hart. Wat in ons hart gebeur is in
God se oë alreeds ‘n deurslaggewende daad!
Waar staan ek en jy? Dra jy by tot lewenskwaliteit by jou medemens, of breek jy
dit af?...Selfs deur bloot ook net níks te doen nie. Dit is baie moeiliker as wat die
mense rondom ons net by ons sién, soos hulle die “goeie dade” van die Fariseërs
gesién het. God ken jou hart. Hierin moet ons “getrouheid aan die wet...meer
inhou as die van die skrifgeleerdes en die Fariseërs.”
Kom ons buig in belydenis voor die Here hieroor...
Ernest