Wanneer Jesus oor die lewe van ons medemens praat,
gaan dit nie oor die lewe as sodanig, asof dat menslike lewe opsigself
die hoogste doel is nie. Dit gaan vir Jesus oor lewe tot eer van God!
Jesus sê nie net wat reg en verkeerd is nie. Hy dink nie in die eerste plek
aan die lewe in terme van ‘n aantal dade wat óf reg óf verkeerd is nie.
Hy laat Hom nie betrek by ‘n dispuut oor wat nou volgens die wet of die
interpretasie van die wet onder sekere spesifieke omstandighede presies
reg of verkeerd is nie. Hy steur Hom blykbaar byvoorbeeld nie daaraan
dat dit volgens die wet waarskynlik presies die regte ding sou wees om ‘n
owerspelige vrou te stenig nie; of dat dit volgens die wet verkeerd sou wees
om op die sabbat iemand te genees nie. Nee...

Jesus kyk na die bedoeling van die wet en besluit dán wat presies die regte
ding sal wees om te doen of nie te doen nie. Daarom leer ken ons vir Jesus as
iemand wat Homself vir die lewe beywer. Die owerspelige vrou kry ‘n kans vir
berou en nuwe lewe! Siekes word genees sodat hulle God met dankbaarheid
en ‘n gesonde liggaam kan verheerlik. Weereens: Dit is duidelik dat Jesus Hom
nie beywer vir die lewe as sodanig nie, asof die menslike lewe opsigself die
hoogste doel is nie. In dit alles gaan dit vir Hom oor die lewe tot eer van God.

Hierin lê ons uitdaging om voluit in die voetspore van Jesus te volg in terme
van ons eie lewe en die lewe van ons medemens. Jesus gebruik praktiese
voorbeelde. Moenie vir jou medemens kwaad word en hom uitskel nie. Want,
met dié gesindheid en woorde is jy besig om hom af te takel. So beroof jy jou
medemens van lewens-moontlikhede. Om hom die slegte toe te wens kom
verseker nie van die Here af nie. Jou gesindheid en woorde kan, volgens Jesus,
alreeds moord wees. Dink daaroor: As ons nie deur die wet van die Woord en
die wet van ons land, ‘n uiterlike maatreël, verhinder sou word nie, sou baie
mense die daad by die woord gevoeg het en letterlik moord pleeg. Dit is net
die vrees vir straf wat baie mense van moord weerhou.

Navorsing sê onder andere dat dit die rede is hoekom mense so lief is vir
geweldstonele in flieks of literatuur. Hulle leef hulleself daarin uit om te kan
doen wat die wet hulle verbied om te doen. In films neem die held heel dikwels
die reg in eie hande. Hy sorg met intense geweld dat sy teenstaanders in die
stof byt. En ons verlustig ons daarin. Ons wil sien hoe bloed vloei.

Wat is Jesus se boodskap? Gaan soek jou teenstander op en maak vrede, ter
wille van lewe tot eer van God! Raak met jou medemens versoen. Neem die
eerste tree. Begin by hulle wat die naaste aan jou is. Hou vir eers die vyand
buite rekening. Jesus gaan nog oor die vyand praat... Dit is nog moeiliker...
Daar is soveel woorde en dade in ons eie lewe teenoor mense wat nié met
lewe tot eer van God te doen het nie. Ons doen dit in direkte kontak, soos met
die ontydige bedelaar of karwag, of my ongewilde kollega by die werk, of in
reaksie op TV nuus, of in reaksie op wat ons lees in openbare en sosiale media...
Ons kan net bid: Here, help ons!

Ernest