Jesus praat in die bergrede met godsdienstige mense.
Mense wat by die altaar met God in gesprek wil tree.
Wat gebeur by die altaar? Daar het die Ou Testamentiese
gelowige met God versoening gesoek. Deur middel van sy offer
het hy sy skuld bely. Hy het ook hierin sy lewe opnuut aan God gewy.
Die gawe was ‘n skuldoffer, en ‘n wydingsoffer. Dit kon ook ‘n lofoffer
wees waardeur die gelowige God verheerlik en aan Hom lof en eer bring.
Nou sê Jesus: “As jy dus jou gawe na die altaar toe bring en dit jou byval
dat jou broer iets teen jou het, laat staan jou gawe daar by die altaar en
gaan maak eers vrede met jou broer en kom dan en bring jou gawe.” –
Matteus 5:23-24.
Wat beteken dit? Jesus sê hiermee vir ons dat ons nie met God ‘n gesprek
moet aanknoop as jy en jou broer nie eers met mekaar praat nie...
Nie omdat dit verkeerd is om enige tyd met God te praat nie, maar omdat
dit verkeerd is om skynheilig met God te praat. Dit is skynheilig as jy voor
God staan en maak asof die hele wêreld reg is, terwyl daar deur jou toedoen
‘n skaduwee oor jou broer se lewe val. Jesus sê nie jy moet jou gesprek met
God aflas nie. Hy sê jy moet hierdie noodsaaklike gesprek met God eers
onderbreek en seker gaan maak dat jy in liefde en harmonie met jou
medemens leef sover as dit vir jou moontlik is. Versoening met alle mense
is vir God belangrik. Geregtigheid, barmhartigheid en opregtheid teenoor jou
medemens is vir God belangrik en kom ter sprake in aanbidding by die altaar.
Jesus noem ‘n tweede voorbeeld: “As iemand ‘n regspraak teen jou begin,
kom betyds tot ‘n skikking solank jy nog saam met hom op pad hof toe is,
sodat hy jou nie voor die regter bring en die regter jou aan die polisie oorgee
en dié jou in die tronk sit nie.” – Matteus 5:25. Jesus se raad is dat jy van jou
kant af alles moet doen om die saak te skik en te versoen voordat julle in die
hof beland. Dit gaan steeds oor reg en geregtigheid, maar ook versoening.
Wat vir Jesus belangrik is, is die eis om versoening. Hy roep ons op om te
versoen. Daar volg dikwels bitterheid en haat waar uitsprake in die hof ook
nie so “gunstig” was as wat partye verwag het nie. Ons moet alles in ons
vermoë doen om ‘n saak versoenend af te handel.
Jesus hef nie hiermee reg en geregtigheid op nie. Dit gaan oor die gesindheid
van versoening as bewys dat ons aan ons medemens volle en opregte lewens-
ruimte wil gee, alles tot eer van God. Leef en laat leef. God wil hê dat ek en my
medemens onder sy genade sal leef en dat ons dit aan mekaar bewys. Dan kan
ek met vrymoedigheid na die altaar kom.
Pieter Marshall het gesê dat ons moet bid: “Here, as ek verkeerd is, maak my
tog gewillig om te verander. En as ek reg is, maak my maklik om mee saam te leef.”
Dit is die motief agter ons dade wat regtig saak maak. Jesus wil ons lei om die lewens-
insig van versoening te bemeester, en nie saam te loop as dinge verkeerd loop nie.
Ernest