“Julle het gehoor dat daar gesê is: “Jy mag nie egbreuk pleeg nie.”
Maar Ek sê vir julle: Elkeen wat na ‘n vrou kyk en haar begeer, het
reeds in sy hart met haar egbreuk gepleeg. As jou regteroog jou laat
struikel, haal hom uit en gooi hom van jou af weg; want dit is vir jou
beter dat net een van jou ledemate verlore gaan as dat jou hele liggaam
in die hel gegooi word”. – Matteus 5:27-29.

Ons het al gesien hoe vieslik dit lyk as mense by ‘n openbare piekniekplek
of openbare park rommel strooi. Dit steek jou totaal dwars in die krop.
Mense het dit absoluut en sonder respek in hul eie belang gebruik en ‘n
gemors daarvan gemaak. Hulle het glad nie omgegee hoe hulle dit agterlaat
nie. Ons almal ken hierdie prentjie. Só het dit ook op seksuele gebied geraak,
deur die eeue deur, en veral vandag nog.
J M Boice skryf: “For never in the history of the western world since the death
of Greek and Roman paganism has fidility in marriage been so threatened either
from within or without, or an unbridled indulgence of free sexual passions been
so encouraged or so praised.” Soveel so dat bogenoemde standpunt van Jesus
in Matteus 5 as kontroversieel gesien word!

God plaas die seksuele kunswerk, wat Hy geskep het, binne die spesiale raamwerk
van die huwelik, wat Hy geskep het, en heilig ag. Daarom het dit binne die raamwerk
van die huwelik veel meer betekenis tot God se eer as net die biologiese funksie van
voortplanting.
Ongelukkig het die mens op hierdie heilige terrein ‘n rommelstrooier geword.
God se skeppings-kunswerk word nie na waarde geskat nie. Die mens benut dit nie
maar misbruik dit; geniet dit nie, maar maak ons skuldig aan seksuele vraatsug;
tree nie as bewaarder op nie, maar het ‘n verwoester van die seksuele en die
huwelik geraak. Die deurslaggewende is lank nie meer wat God daarmee bedoel
het nie, maar wat die mens in selfsug en vraatsug daaruit kan haal. Dit het deel
van ons selfsugtige verbruikers mentaliteit geraak.

Dit is geen verrassing dat Jesus oor die seksuele en die huwelik praat nie.
Dit is verrassend hoé Hy daaroor praat. Die Jode het, met behulp van die
skrifgeleerdes en Fariseërs, allerhande “veilige” mure om die gebooie van God
gebou. Daar is haarfyn beplan wat egbreuk is, en wat nie. Jesus breek deur dit
alles en gaan na die binnekamer van die hart! Hy beoordeel ons gesindheid en
gehoorsaamheid aan God nié op grond van die onderhouding van uiterlike
“wette” nie, maar aan die innerlike gesindheid van die hart. Jesus deurgrond
ons gesindhede, en bedoelinge, en motiewe.

Lees weer bogenoemde woorde van Jesus in Matteus 5...en deurdink dit goed.
Ons beoordeel en veroordeel so maklik mense in terme van die seksuele en die
huwelik. Hoe rein leef ons self daarin? As jy na ‘n man of vrou kyk om hom of
haar te begeer, het jy alreeds egbreuk gepleeg...
Wat is aan die gang in jou hart?

Ernest