“Met respek gevra: Is Jesus nie ‘n bietjie moedswillig nie?”,
vra ‘n persoon in ‘n gesprek oor die seksuele en die huwelik.
Kan Jesus regtig ten opsigte van die seksuele en die huwelik sê:
“...Elkeen wat na ‘n vrou kyk en haar begeer, het reeds in sy hart
met haar egbreuk gepleeg”? Volgens Matteus 5:27-29.
Ons is tog mense van vlees en bloed! Om nie te begeer nie is,
om die minste te sê, baie moeilik...
Belangrik: Jesus bedoel nie een oomblik om die mens se natuurlike
neigings nietig te verklaar nie. D A Carson verduidelik dit so:
“This is not a prohibition of the normal attraction which exists
between men and women, but of the deep-seated lust which
consumes and devours, which in imagination attacks and rapes,
which mentally contemplates and commits adultery.”
Daar is ‘n verskil tussen natuurlike behoefte en onnatuurlike wellus.
Die grens tussen dié twee is nie so maklik om te identifiseer nie.
Die Christen gelowige en ongelowige sal hieroor van mekaar verskil.
As kinders van die Here moet ons, volgens die Bybel, die vraag vra:
Is dit ter wille van, of ten koste van?
Wanneer my begeerte ‘n ander persoon se belange benadeel, ook in
beide van ons se verhouding met die Here, is dit ‘n sondige begeerte.
Wanneer jy nie omgee nie, of jou begeerte is ten opsigte van ‘n
getroude persoon, is dit ‘n sondige begeerte.
Wanneer jy self ‘n getroude persoon is, is dit ‘n sondige begeerte.
Wanneer dit alleen om wellus en persoonlike bevrediging gaan,
is dit ‘n sondige begeerte.
Wanneer die ander persoon niks meer as ‘n voorwerp van wellus
is nie, is dit ‘n sondige begeerte.
Wanneer ‘n verhouding vir jou niks meer as ‘n seksuele spel is nie,
dan is jy met egbreuk besig. Dan misken jy God se bedoeling met
die seksuele en die huwelik.
Die belangrike is om nié meer jou eie “wette” hieroor te maak nie,
maar dat die Here Jesus jou reguit na die gesindheid van jou hart
neem, ten opsigte van God en jou medemens.
Wat is ons uitgangspunt as kinders van die Here? Jesus leer ons dat
ons uitgangspunt moet wees: ter wille van. Ter wille van die ander
se belange en ten opsigte van God se eer. Maar veral en bo alles ter
wille van God se eer. Daarom moet ons alle begeertes wat selfsugtig
van aard is, en die belange van God en my medemens uitsluit,
dringend hokslaan! Jesus sê selfs as jou oog jou laat struikel, haal
hom uit en gooi hom weg. Dit dui op dringendheid!
Hou op om te begeer ten koste van! Vra jouself af of God se Naam
en eer op die spel is. Dit is die vraag wat ‘n kind van God vra.
Die Heilige Gees gaan nié met jou speletjies speel hieroor nie.
Jy gaan Hom óf gehoorsaam, óf weerstaan!
Sondige begeertes is ook die sneller vir sondige dade...
Dien die Here. Nie jouself nie... Luister na die Gees!
Moet Hom nie weerstaan nie!
Ernest