“...As jou regteroog jou laat struikel, haal hom uit en gooi hom
van jou af weg; want dit is vir jou beter dat net een van jou ledemate
verlore gaan as dat jou hele liggaam in die hel gegooi word.” – Mat. 5:29.
Wat bedoel Jesus hiermee? Dit is duidelik Jesus se bedoeling dat ‘n mens
deur middel van ‘n radikale terapie teen die sonde in opstand moet kom.
Ons moet nie ons oë ewe vroom in gebed sluit en net daarna ons oë maar
weer na hartelus vir die bevrediging van ons eie selfsugtige begeertes
aanwend nie. Die lus van ons hart moet so oorheersend op God se wil
ingestem wees dat ons baie beslis en deurgaans teen die sonde optree.
Ons het God bo alles lief!

Romeine 6:13: “Julle moet geen deel van julle liggame in diens van die
sonde stel as ‘n werktuig om goddeloosheid te bedrywe nie. Nee, stel julle
in diens van God as mense wat dood was maar lewend gemaak is, en stel
elke deel van julle liggame in diens van God as werktuig om te doen wat
God wil.”

Wat Jesus verder met die uithaal en afkap impliseer is dat ‘n mens ter wille
van gehoorsaamheid aan die Here ook ongerief sal verduur. Dit gaan nie oor
ons nie, maar altyd en oral om die eer en wil van die Here! Die Christen se
keuse téén ‘n sondige lewenstyl sal dus, menslik gesproke, in terme van die
heersende en hedendaagse manier van lewe nie altyd maklik wees nie.
Dink maar aan ons blootstelling aan films, literatuur en so meer. Die vraag is:
Wat doen jý daaromtrent as jy daaraan blootgestel word? Dit gaan nie net
oor jou standpunt nie, maar wat jý doen.

En die huwelik?
Jesus spreek daarom ook die instelling van die huwelik aan, en egskeiding.
Lees Matteus 5:31-32. Jesus se woorde is beslis. Daar is baie verskillende
redes hoekom mense skei. Daar word ook baie redes aangevoer soos dat
die huwelik ‘n sosiaal-maatskaplike verskynsel is, en tye verander. Ook die
emansipasie van die vrou kom ter sprake, en hedendaagse sielkundige
aspekte wat “nuwe lig werp”. Daar word ook aangevoer dat die huwelik
oor liefde gaan, en as liefde verdwyn is dit beter om te skei. Daar word
verder ook gesê ons moet nie wetties met die Bybel werk nie. Ons moet
vra wat vandag geldig is...

Jesus wil juis wegkom van die wettiese uitleef van ‘n verhouding met God!
Ook ten opsigte van die huwelik en egskeiding. Dit is duidelik dat Jesus
Hom verset teen die mens se poging om egskeiding “maklik” te maak.
Die huwelik bly ‘n heilige instelling van God. Dit is juis op hierdie punt
wat die paaie van gelowiges en ongelowiges uiteen loop oor die siening
van die huwelik en egskeiding. Kinders van die Here moet uiteindelik
elkeen van die argumente vir egskeiding toets aan hoé God die huwelik
sien.

Daarom moet daar regtig álle pogings tot versoening en huweliksherstel
aangewend word voordat mense skei. Dit gaan nie oor Moses se tyd of
Paulus se tyd oor die huwelik nie. Dit gaan oor God se bedoeling met die
huwelik. Die huwelik moet vir die gelowige heilig en tot eer van God wees.
God se vernuwingskrag wil ook in die huwelik werk.

Ernest