“Laat julle “ja” eenvoudig “ja” wees en julle “nee”, “nee”.
Wat meer gesê word as dit, kom van die Bose.” – Matteus 5:37.
‘n Gelowige in Christus praat die waarheid. Elkeen wat hom- of haarself
‘n Christen noem, moet jouself dus afvra of jy deurgaans die waarheid praat.

Lees veral ook wat Jesus in Matteus 5 verse 33-36 sê oor die aflê van ‘n eed,
en of jy dikwels jou woorde moet bekragtig. Hoe dikwels vind jy dit nodig om
die “waarheid” wat jy praat met die een of ander krag-formule te bevestig?
Soos “regtigwaar”, “waaragtig waar”, “op my woord”, “eerlikwaar”, “die Here
hoor my”, “ek sweer dis waar”.

Hoe dikwels vind jy dit nodig om ‘n wit leuentjie te vertel? Is dit “nodig”?
En wat van “noodleuens”? Wanneer jy regtig nie anders kan nie as om nié die
waarheid te praat nie. En wat van speelse leuens, sommer vir die grap, en dan
vergeet jy om te sê dit was eintlik ‘n grap? Al hierdie vrae moet ons mooi laat
dink oor hoe ons omgaan met die waarheid. Dit gaan oor die waarheid.
Of jy op jou woord geneem kan word. Of jy ‘n eerlike kind van God is.

En wat van ‘n eed?
In die Ou Testament is dikwels van ‘n eed gebruik gemaak om die waarheid
te bevestig. God het selfs “met ‘n eed” aan Abraham bevestig – Lukas 1:73.
Deut. 10:20 het ook gesê: “...en wanneer jy ‘n eed aflê, moet jy dit in sy Naam
doen.” In die Nuwe Testament gebruik Paulus ‘n eed-formule om sekere feite
te bevestig: “God, wat ek met my hele hart en siel dien deur die evangelie van
sy Seun te verkondig, is my getuie...” – Rom. 1:9. Ook in 2 Kor. 1:23:
“Ek roep God tot getuie en staan met my hele lewe daarvoor in...”

Dit is duidelik dat ‘n eed twee dinge sê: Dit is in die eerste plek ‘n jammerlike
erkenning van die feit dat die leuen ‘n baie groot rol in mense se lewens speel.
Soveel so dat mense mekaar nie maklik vertrou nie. Net mense wat mekaar nie
maklik glo nie, vind dit nodig om by wyse van ‘n eed geloofwaardigheid aan hulle
woorde te gee. Bonhoeffer stel dit so: “The very existence of oaths is a proof that
there are such things as lies.” In die tweede plek wil die eed dan juis dit doen:
Om geloofwaardigheid te versterk. Dit wil die waarheid dien. Die eed is ‘n erkenning
van die sonde van leuens en wil dit dan so goed as moontlik hok slaan.

Mense het egter in Jesus se tyd die sonde versag en “suiker daaroor gegooi”.
Ons doen dit ook... So was sekere eed-formules minder bindend as ander. As jy ‘n
klein leuntjie vertel gebruik jy ‘n klein formuletjie. ‘n Groot leuen, ‘n groot formule.
Jou formule moes net nie te ernstig raak, soos om by God te sweer nie...
Jesus self loods daarom ‘n skroeiende aanval op die Fariseërs oor die misbruik van
‘n eed. Lees gerus Matteus 23:16-22 hieroor. Uiteindelik, sê Jesus, het ons nog steeds
met God te doen! Enige iets waarby jy sweer behoort aan God. As ek byvoorbeeld sê
“op my woord”, sê ek steeds as ‘n gelowige dat die Here my getuie is, want my woord
is die woord van ‘n kind van God!

Daarom moet ons onsself gedurig afvra: Hoe gaan ek om met die waarheid en die
bevestiging van die waarheid? Ons manier van lewe en praat moet van so ‘n gehalte
wees dat mense nooit ons woorde in twyfel sal trek nie. Dit is wat Jesus wil sê:
“Laat julle “ja” eenvoudig “ja” wees en julle “nee”, “nee”.
Praat die waarheid!

Ernest.