Ons as gelowiges in Christus se manier van lewe moet van so ‘n hoë
gehalte in Hóm wees dat mense nie ons woorde in twyfel sal trek nie.
Jesus verbied ons byvoorbeeld nie om ‘n eed te gebruik nie. Die eed
dra egter die karakter van uitsondering, soos by getuienis in ‘n hof.
Om in jou daaglikse lewe jou woorde sommer na willekeur en gereeld
met ‘n eed-formule te bekragtig, het uiteindelik eerder die teenoor-
gestelde uitwerking. Mense bevraagteken dan baie gou die egtheid van
jou woorde. Ons moet ook nie die waarheid “aandik” en dit “aantrekliker”
maak met meer opwindende beskrywing daarvan nie.
Aangedikte waarheid kry meer applous en naderhand “hou ons links”
van die waarheid. Praat net die waarheid. Niks meer en niks minder nie.

Dink maar hier aan “vis-stories”... Ons ken die verwysing na aangedikte
waarheid as “vis-stories”. Ons geloofwaardigheid is op die spel. Dit gaan
nie oor die skade van ‘n enkele onskuldige ou “vis-storietjie” nie, maar oor
die vrymoedigheid en gemaklikheid waarmee selfs gelowiges die waarheid
geweld kan aandoen. Soos by enige ander storie...waar selfs iemand se
naam in gedrang kan kom. Stories soos: “Het jy gehoor...?” Maak daarom
seker van die waarheid voor jy praat. Maak seker of dit nodig is om daaroor
te praat in die konteks waarin jy is.

Dink hier aan die negende gebod oor vals getuienis. Die vraag is of jy die
waarheid dien? En as dit die waarheid is, is die vraag hoekom jy dit in hierdie
konteks praat? Thielicke het gesê dat ons moet onthou dat ons woorde soos
springstof is, wat met alle kragte van die hemel en die hel gelaai is! As dit oor
die waarheid gaan, moet ons as kinders van die Here weet dat ons woorde
geweldig baie gewig dra. Ons praat namens die Koning. Daarom moet ons
soos die Koning praat.

“Jy mag nie vals getuienis teen ‘n ander gee nie” – Eksodus 20:16.
Dit gaan uitsluitlik oor die waarheid. Die klem, hier waar Jesus in Matteus in
die bergrede praat, val op die wyse waarop ons probeer om geloofwaardig
te klink. Die negende gebod het die beskerming van ons medemens in die oog.
Ons kan so maklik deur die leuen die lewe van ons medemens groot skade aan-
doen. Daarom moet ons ook mooi dink ten opsigte van die waarheid en ons
medemens: Dit is dikwels beter om stil te bly, as dit nie nodig is om te praat nie,
as om die waarheid te praat sonder barmhartigheid. J A Heyns stel dit so:
“Dat die waarheid die naaste beskerm, hang saam met die feit dat die waarheid
in diens van die orde staan wat God vir die bestaan van die mens daargestel het.
Waar die waarheid heers, word lewensruimte geskep...” En die teenoorgestelde:
waar die leuen heers word lewensruimte weggeneem.

Praat die waarheid. Met jou medemens, en ook van jou medemens.
Die taal van die waarheid is altyd eenvoudig en sonder pretensie. Alles kan
nagemaak word, behalwe die waarheid. Die waarheid bestaan eenvoudig.
Dit is ‘n werklikheid. Dit is net die leuen wat uitgedink moet word.
Praat die waarheid.

Ernest