Daar word dikwels geredeneer oor noodleuens. Mag dit, of nie?
Ons lees van noodleuens in die Bybel wat nie afgekeur is nie.
In Eks.1:19 lees ons dat Joodse vroedvroue die Joodse seuntjies red
deur ‘n leuen te vertel. In Josua 2:5 lees ons dat Ragab die Joodse
verspieders red deur ‘n leuen te vertel. Dit blyk dat ‘n leuen hier vertel
word om die waarheid te dien. Dit klink onmoontlik. Maar let op dat dit
in verskeie gevalle gegaan het om die red van God se volk, sy kinders.
Juis die mense wat in die wêreld as draers van die waarheid moes optree.

Dit lyk dan ook asof dit die maatstaf is vir ‘n sogenaamde noodleuen,
of “krisiswaarheid”. Eerstens: Dit moet die behoud van lewe tot gevolg hê.
Tweedens: Dit moet in diens van die waarheid staan. Dink byvoorbeeld aan
die mense wat tydens die Tweede Wêreldoorlog die Jode in hulle huise
versteek het sodat die Nazi’s hulle nie kon uitmoor nie. Hulle het leuens
daaroor vertel wanneer hulle gekonfronteer is, juis om mense en kinders
van God te beskerm. Die leuens het vir lewensbehoud gesorg, asook vir die
waarheid van God se Woord dat mense nie sonder meer doodgemaak moet
word nie! Noodleuens, of krisis-waarhede, moet met die grootste omsigtigheid
gebruik word. Ons kan dit selfs nié na eie goeddunke en willekeur gebruik nie.
Dit moet onteenseglik ‘n verantwoordelike woord in God se teenwoordigheid
wees. Tot behoud van lewe, en in diens van die waarheid!

En wat van speelse leuens, of witleuens? Dit is iets heel anders as noodleuens.
Dit is leuens wat ons vir ons eie “gerief” vertel en wat ons maklik “klein” en
“niksbeduidend” noem. Dit bly egter leuens. Die probleem is dat dit ook maklik
‘n gewoonte word. Dit is mos “onskadelik”. Mense praat naderhand van jou
groot verbeelding en reken jou woord nie meer betroubaar nie. Ook speelse
leuens, sommer net vir die grap, om iemand byvoorbeeld skrik te maak, kan
negatiewe gevolge hê. Dink mooi daaroor. As jy die enigste een is wat lag,
of as dit iemand anders verontrief, moet jy twee keer dink. Daar is ‘n mooi
beeld in Spreuke 26:18-19: “Soos ‘n mal mens wat dodelike pyle rondskiet,
so is iemand wat ‘n ander bedrieg en sê: “Ek speel sommer”.

Gaan altyd verantwoordelik te werk met jou woorde. Wanneer iemand nie
besef jy het ‘n witleuen vertel nie, loop hy dalk verder daarmee, en daaroor
sê Martin Luther: ‘n Leuen is soos ‘n sneeubal; hoe langer jy hom rol, hoe
groter word hy.
‘n Witleuen, of ook ‘n speelse leuen sal jou soms maklik uit ‘n verleentheid
kry en jy sal waarskynlik verlig voel, maar jy sal altyd baie beter voel en diep
bevrediging beleef wanneer jy ‘n verleentheid hanteer het sonder om jou
toevlug te neem tot ‘n witleuen of ‘n speelse leuen. Washington Allston het
gesê ‘n enkele leuen is ‘n raar verskynsel, want leuens teel gewoonlik aan
soos brulpaddas. Jy het skaars een vertel, of nog een word nodig; en dié een
verskyn met ‘n klomp kleintjies op sy rug.
Dink verantwoordelik, voor jy jouself en dan ander bluf.
En praat dan verantwoordelik. Praat die waarheid.

Ernest