Kom ons begin eers by die leuen: Jesus laat by ons geen
ruimte vir twyfel oor waar die leuen vandaan kom nie:
“Laat julle “ja” eenvoudig “ja” wees en julle “nee”, “nee”.
Wat meer gesê word as dit, kom van die Bose.” – Mat. 5:37.
As jou woorde nie betroubaar is nie, wie dien jy dan met jou
woorde? Die duiwel is ‘n kunstenaar met halwe waarhede.
Kyk maar net hoe misbruik die Bose die skrifgedeeltes uit die
Woord van God wanneer hy Jesus versoek met halwe waarhede.
Johannes 8:44 sê oor die duiwel: “...Hy was van die begin af ‘n
moordenaar. En hy staan nie aan die kant van die waarheid nie,
omdat daar geen waarheid in hom is nie. Wanneer hy leuentaal
praat , is dit volgens sy aard, want hy is ‘n leuenaar en die vader
van die leuen.” Die vraag is weer: As jou woorde nie betroubaar
is nie, wie dien jy dan met jou woorde?
Nou: Die waarheid! Die bron van die waarheid. Jesus het gesê:
“Ek is die weg en die waarheid en die lewe. Niemand kom na die
Vader toe behalwe deur My nie.” – Joh. 14:6.
Dink ook aan Joh. 1:1 se woorde: “In die begin was die Woord daar,
en die Woord was by God, en die Woord was self God.” Jesus se
woorde is nie net absoluut waar en betroubaar nie, maar sy woorde
is met krag gelaai! Met ‘n enkele woord bring Hy die natuur in
beroering of tot bedaring. Sy woorde is veral woorde van lewe
wat lewe skep. So het Petrus gesê:
“U het die woorde wat ewige lewe gee...” – Joh. 6:68.
Pilatus vra ewe skynheilig aan Jesus: Wat is waarheid? – Joh. 18:38.
Min weet hy dat dié Waarheid reg voor hom staan! Jesus sterf nie
net as dié Waarheid nie, maar ook vir die tragiese waarheid dat die
mens ‘n dienaar van die leuen geword het, en slegs deur Goddelike
ingryping van die leuen bevry kan word. Om in Jesus te glo as Verlosser,
is om ‘n keuse vir dié Waarheid te maak, sowel as vir die waarheid!
Ons is nou dienaars van die Koning, die vors van die waarheid.
Daarom roep Paulus ons op in Ef. 4:25: “Noudat julle die valsheid
afgelê het, moet julle onder mekaar die waarheid praat...”
In Kol. 3:9 stel hy dit net so sterk: “En moenie vir mekaar lieg nie...”
Ons verteenwoordig God in hierdie wêreld en praat soos Hy die
waarheid! Hoe ken mense my? Is my woorde te alle tye betroubaar?
Praat én lééf ek die waarheid?
Miguel De Cervantes het gesê: Waar daar waarheid is, daar is God.
Jesus het gesê: “As julle aan My woorde getrou bly, is julle waarlik
my dissipels, en julle sal die waarheid ken,
en die waarheid sal julle vrymaak.”
Ernest