Dit voel asof, hoe verder jy in die bergrede lees, hoe “moeiliker”
is dit om in die alledaagse lewe ‘n Christen te wees. Die belangrike
is egter dat ons in die eerste plek vir Jesus kies, en dan gaan leef
soos Jesus wil hê ons moet leef. Ons kies die Persoon. Ons kies God.
Ons kies nie in die eerste plek ‘n leefwyse nie. Wanneer ons die Here
bo alles kies, dan kies ons daarmee die lewe wat Hy wil hê ons moet lewe.
En hierdie lewe is: Ons het God bo alles lief, en ons naaste soos onsself.
Wanneer jy God bo alles liefhet, is dit moontlik, en maak God dit deur sy
Gees vir ons moontlik om al hoe meer soos Jesus te leef.
Daarom kan ons ook die volgende gedeelte beter verstaan en besef dit is
moontlik: “Julle het gehoor dat daar gesê is: “’n Oog vir ‘n oog en ‘n tand
vir ‘n tand”. Maar Ek sê vir julle: “Julle moet julle nie teen ‘n kwaadwillige
mens verset nie. As iemand jou op die regterwang slaan, draai ook die ander
wang na hom toe. As iemand jou hof toe wil vat om jou onderklere te eis,
gee hom ook jou boklere. As iemand jou dwing om sy goed een kilometer
ver te dra, dra dit vir hom twee kilometer. Gee aan hom wat iets van jou vra,
en moet hom wat van jou wil leen nie afwys nie.” – Matteus 5:38-42.
Dít is nie maklik nie. Ons kan natuurlik baie voorbeelde noem wat dit nóg
moeiliker maak. Byvoorbeeld iemand wat drank misbruik en ‘n monster raak
teenoor sy vrou en kinders. Of iemand wat deurgaans by die werk jou agteraf
loop en beswadder.
Hoe beantwoord ons aan bogenoemde uitsprake van Jesus? Baie moeilik!...
sou ons dadelik sê. Dit is asof Jesus ons dissipelskap hier tot die uiterste toets.
Dit is soos dryfsand. Hoe meer jy spook om die ander wang te draai, hoe dieper
sak jy weg in gedagtes van vergelding...
Nou kry ons eintlik die indruk dat juis dit die plek is waar Jesus ons wil hê.
By die besef: Ons kan nie! Ons kan nie op ons eie nie! Dit is onmoontlik!
Ons kan maar gerus wees. Die wet is aan jou kant. Want dit is wat Jesus hier sê:
Soos julle weet staan daar in die wet dat ‘n mens vir sy dade moet betaal. ‘n Oog
vir ‘n oog. En Jesus het reeds gesê dat Hy nie téén dié wet is nie. Maar Hy doen
tog iets aan die wet: Hy laat die wet op ‘n ander manier funksioneer. Hy bring
die bedoeling van die wet aan die lig. Wat was die bedoeling van die wet?
Orde!
Ou Testamentiese wette se aankondiging van strafmaatreëls was om die reg
van vergelding uit mense se hande te neem, want weerwraak en bloedwraak
sou uiteindelik tot chaos lei. Die straf moes in ooreenstemming met die
oortreding wees. Dit is hierna verwys Jesus met die woorde van “’n oog vir ‘n
oog en ‘n tand vir ‘n tand.” Jesus het dit nié teen dié wet nie. Maar Hy het dit
teen die gesindheid waarmee mense die wet aanlê en manipuleer om hulle eie
wraakgierigheid te laat geld en hulle vergeldings-drang te bevredig.
Met ander woorde: Wanneer mense hulle op die wet beroep, nié ter wille van
die orde nie, maar ter wille van vergelding en selfhandhawing, dán roep Jesus:
Halt! Stop daarmee!
Het ons dan geen regte nie? Meer hieroor in môre se oordenking...
Intussen moet ons onsself die vraag afvra: Hoekom wil óns, sélf, so graag vergeld?
Hoekom sou ons selfs wegdeins van vergifnis, en eerder wil vergeld?
Gaan dit oor óns, sélf, en selfhandhawing? Hoekom wil ons wreek? En hoe?
Oordink dit en bid daaroor.
Ernest