Vergelding? Het ons regte? Mens huiwer om dit sommer so goedsmoeds
te antwoord met ‘n maklike ja of nee. Jesus wil egter in die skrifgedeelte
van Matteus 5:38-42 duidelik sê dat ‘n Christen anders leef as die res van
die wêreld. Dit sou egter verkeerd wees om ongekwalifiseerd te sê dat
Christene geen regte het nie. Die Bybel leer tog dat die wet, waaroor Jesus
dit in die bergrede het, en waaraan Hy sy volle betekenis kom gee het, juis
bestaan en deur God gegee is in die Ou Testament om orde en harmonie in
God se skepping te bewerk. Die kind van God kan daarom op hierdie orde
aanspraak maak. Hy kan hom ook op die wet beroep, soos Paulus gedoen
het, en homself by herhaling op die Romeinse wet beroep het.
Die voorbeelde wat Jesus aanhaal het telkens met persoonlike konfrontasies
te doen. In mens tot mens situasies. Wanneer iemand anders op jou eer, goed,
tyd, of geld aanspraak maak. Let veral op Jesus se woorde: “Julle moet julle nie
teen ‘n kwaadwillige mens verset nie.” En dan hierdie woorde van Jesus:
“As iemand jou op die regterwang slaan, draai ook die ander wang na hom toe.
As iemand jou hof toe wil vat om jou onderklere te eis, gee hom ook jou boklere.
As iemand jou dwing om sy goed een kilometer ver te dra, dra dit vir hom twee
kilometer. Gee aan hom wat iets van jou vra, en moet hom wat van jou wil leen,
nie afwys nie.”
Dit klink ongelooflik in die wêreld waarin ons leef. Maar Jesus volgelinge is juis
so “ongelooflik ánders” in hierdie harde werklikheid! Dietrich Bonhoeffer sê by
hierdie gedeelte: “The only way to overcome evil is to let it run itself to a standstill
because it does not find the resistance it is looking for.” Moenie kwaad met kwaad
vergeld nie. Draai ook jou ander wang.
Die bokleed kon, volgens Joodse wet, deur niemand van jou weggeneem word nie.
Jesus se dissipels moet ook dit weggee. Dit is ‘n soort onteiening: Niks noem ek my
eie meer...sê lied 308 vers 4 van die Liedboek.
Oor die dra van iemand anders se goed sê Jesus: Dra dit verder as wat hulle vra.
Die Romeinse soldaat kon eis dat jy sy goed ‘n bepaalde afstand dra. Ons kan net
dink hoe die Jode dít gehad het! Nou sê Jesus: Dra dit verder. In die laaste voorbeeld
van iemand wat iets van jou vra of wil leen, wil Jesus beklemtoon dat ons nie aan
selfsugtige inhaligheid moet ly nie.
Jesus wil met al hierdie voorbeelde beklemtoon dat ons die mens se regte anders
moet verstaan as dat dit net oor onsself gaan. Eintlik moet ons wéét: Niks behoort
aan my nie. Alles behoort aan God. Wat ek is en wat ek het, is aan God te danke.
Daarom stel ek dit deurlopend aan God beskikbaar! Maak nie saak met wie ek te
doen het nie. Ons moet in al hierdie voorbeelde vra of dit in belang van ons Koning is,
en nie of dit in die eerste plek oor ons belange gaan nie. Jesus is nie teen die Ou
Testamentiese wet waarmee die skrifgeleerdes en die Fariseërs Hom konfronteer nie,
maar daarteen dat God se kinders dit uitsluitlik wil gebruik om hulle eie belange te
bevorder, in plaas van God se wil en sy koninkryk.
Jesus se nuwe wet, die wet van liefde, is veeleisend! Dit is wat Jesus hier demonstreer.
Dit is om nié te vra wat die ander mens vir joú kan beteken nie, maar om te vra na die
hart van die ander mens. Daarom, omdat dit nie maklik is nie, maar die offer van jousélf
vra, het Jesus gesê, soos Die Boodskap dit vertaal: “As iemand my volgeling wil wees,
moet hy sy hele lewe vir my gee. Ek is met niks minder as dit tevrede nie. Om My te volg,
is baie moeilik...As jy net vir jouself lewe, sal jy uiteindelik jou lewe verloor...” –
Mat 16:24-25.
Ernest