Jesus verwys weer na die wet wanneer Hy sê: “Julle het gehoor...”
Hy gaan voort deur te sê: “Julle het gehoor dat daar gesê is: “Jou naaste
moet jy liefhê en jou vyand moet jy haat. “ Maar Ek sê vir julle: Julle moet
julle vyande liefhê, en julle moet bid vir dié wat julle vervolg, sodat julle
kinders kan wees van julle Vader in die hemel. Hy laat immers sy son opkom
oor slegtes en goeies ,en Hy laat reën oor dié wat reg doen en oor dié wat
verkeerd doen. As julle net dié liefhet wat vir julle liefhet, watter loon kan julle
dan nog verwag? Maak die tollenaars nie ook maar net so nie? En as julle net
julle broers groet, wat doen julle meer as ander? Maak die heidene nie ook
maar net so nie? Wees julle dan volmaak soos julle hemelse Vader volmaak is.”
Matteus 5:43-48.

Een ding word in die berg-preek van Jesus al hoe duideliker: Volgelinge van Jesus
het ‘n leefstyl van hul eie. En as jy ‘n dissipel van Jesus wil wees, moet jy bereid
wees om jou hele lewensbeskouing en die uitleef daarvan in sy voetspore te leef.
Die Jode het in ‘n groot mate die wet van die Here van die Ou Testament gerek en
gedruk om by hulle aan te pas. Die wet sê wel duidelik dat jy jou naaste moet liefhê,
wat al klaar opsigself moeilik kan raak. Dit het die Jode geweet. Daarom werk hulle
aan ‘n keurlys van wie nou eintlik jou naaste is. Soos ons vandag nog probeer doen...
Dit was, wat die Jode betref, hoogstens dan volksgenote. Die ander kon as vyande
gereken word. En jou vyande kon jy maar haat.

Geen wonder dat die wetgeleerde by geleentheid by Jesus wou hoor wié dan nou
eintlik jou naaste is nie – Lukas 10:29. Mens kon jou kringetjie nogal nou trek sodat
jou naaste nou nie eintlik vir jou ‘n verleentheid sou word nie. Jesus se antwoord by
wyse van die gelykenis van die barmhartige Samaritaan was verrassend! Let op dat
Jesus in die gelykenis nie ‘n identiteit gee aan die man wat aangeval was nie, dat Hy
byvoorbeeld ‘n vyand was soos ‘n Romeinse soldaat nie. Jesus gee ‘n identiteit aan
die man wat na sy mening die wet van liefde reg verstaan en dit uitvoer.
Hy is ‘n Samaritaan! Juis iemand wat die Jode beslis nie as hul naaste wou reken nie.
Dit is vir die Jode soos ‘n “bitter pil”, dat ‘n Samaritaan die wil van God beter verstaan
as ‘n priester en ‘n Leviet!

Maar wie is jou vyand? Het jy vyande? Wie is hulle? Ons dink dadelik aan wettelose
mense wat ons bedreig. Mense wat roekeloos leef. Dronkbestuurders, verkragters,
rowers, aanranders, rugstekers by jou werk, die “vriend” wat met jou vrou wegloop...
Die vyand is iemand wat jou woedend maak, reg maak vir baklei, of om jou te verdedig.
Jy haat hom maklik. Dit is ‘n natuurlike reaksie. Mense sal jou nie kwalik neem as jy jou
vyande haat nie, veral as dit ook hulle vyande is.
Maar nou gooi Jesus ons appelkar om. Net hier! Jesus se sy dissipels moet hulle vyande
liefhê! Sy volgelinge is buitengewone mense. Hulle is mense van die koninkryk van God.
Hulle is onderdane van die Koning. En die Koning sê jy moet jou vyande liefhê en bid vir
dié wat jou vervolg!

Wat sou liefhê in hierdie konteks beteken? Liefde is ‘n woord met ‘n baie sterk
gevoelswaarde. Dit laat jou gewoonlik aan iemand dink. Dit loop saam met deernis en
vreugde. Liefde sê iets van naby wees. Die Bybel neem hierdie persepsie egter veel verder.
Die Bybel praat in die boodskap van Jesus van liefde as ‘n skuld wat betaal moet word en
nie ingevorder moet word nie. Dit gaan nie in liefde oor voorwaardes en teenprestasies nie.
Die Here se liefde is nie van wederliefde afhanklik om te bestaan nie. Dit is ‘n liefde ten spyte
van die ander party se houding en reaksie. Die liefde wat God vra, ook ten opsigte van ons
vyand, is ‘n ander liefde as wat ons “gemaklik” onder liefde verstaan.
Bybelse liefde is God-gesentreerd in plaas van die ek-gesentreerde natuurlike liefde.
Bybelse liefde is nie in die eie aard van die mens nie, want dit is selfverloënend. Dit is liefde
wat prysgee ter wille van God.

Daarom kan ons ons vyand liefhê. Jesus het dit in lewende lywe kom demonstreer.
Hy kom sterf vir sy “vyande” aan die kruis! Ons wat Hom nie liefgehad het nie!
Hy sterf vir ons, met ‘n gebed van vergifnis op sy lippe. Ons kan eers by die kruis dié
liefde verstaan: Om jou vyand lief te hê... Daarom kon al die Bybel skrywers ná die kruis
dit verstaan en ons leer om ook soos Jesus lief te hê. Jy moet jou vyand liefhê...

Ernest