Die uitsonderlike liefde wat God voorskryf, en waarvan Jesus sê dat
jy ook jou vyand moet liefhê, het ‘n bepaalde doel. Daarom het Jesus
dit ook kom uitleef tot aan die kruis! Dit is deel van God se herstelplan
vir sy skepping. Dit is die liefde wat die mens weer na die beeld van God
hervorm! Vir ons, om enigsins weer aan God se doel met ons te beantwoord,
moet ons met God en ons medemens in die regte verhouding leef, soos God
dit bedoel. Ek moet ter wille van God ‘n mens wees, en ek moet ter wille van
ander mense ‘n mens wees. Ek is hier ter wille van God!
Wanneer ons sê dat hierdie een reël uit die bergrede vir ons onmoontlik is,
en dat ons daarom nie ‘n goeie dissipel van Jesus kan wees nie, dan is ons reg!
Ons kan nie. Dit weet Jesus beter as enige een van ons. Ons kan nie. Maar Jesus kan,
en Hy wil dit deur ons doen! Jesus stel nie maar net hier vir ons ‘n onbereikbare
ideaal nie. Hy wil dit deur ons doen. Deur die Heilige Gees gaan God dit doen, in en
deur ons! Daarom is hierdie liefde wat Jesus vra nie ‘n liefde wat van ons gevoelens
afhanklik is nie. Ons hoef nie te voel om lief te hê nie. Ons voel juis dikwels om nié
lief te hê nie. Maar: “If love depended on our feelings, it would be foolish to say:
“Love one another” or “Love your enemy”. It could not be done. But if love is a
matter of the will and if our wills are surrendered to Him, it can be done; and we
can love our enemies just as we can also bless them that curse us...” – J M Boice.
Hoe lyk dié liefde in praktyk?
Hoe lyk die liefde vir jou vyand in die daaglikse lewe? Dit is nie pasifisme of die
afskaffing van die regstelsel nie. Dit is ook nie dat jy op jou laat trap nie. Of dat jy
jou laat besteel, bedrieg, verneder of beswadder nie. Dit is nie weerstandlose
kapitulering nie. Dit sou nie liefde wees nie. Dink aan 1 Kor. 13:6 wat sê dat die
liefde hom nie verbly oor onreg nie. Liefde bly juis in belang van die vyand en
verheug hom dus oor die waarheid! Liefde is altyd in belang van en ter wille van.
Die ander wang en die ekstra kilometer is nie ‘n teken van weerloosheid nie,
maar van krag! Jy het iets om te gee wat die wêreld nie het nie, die liefde van
God! Die oorwinning van die kruis! Ware liefde bly berekende en gewillige
selfverloëning ter wille van die Here en die persoon van die vyand. Jy kyk nie
anderpad wanneer jou vyand verkeerd doen nie, maar reik uit na die mens
agter die wetteloosheid of wandaad.
Dit bly vir ons moeilik. Ons identifiseer dadelik die persoon met sy daad.
En die persoon moet steeds vir sy wandaad verantwoordelikheid aanvaar.
Dit bly waar. Dit gaan egter vir Jesus oor ‘n liefdeshandeling wat net kinders
van God kan regkry omdat dit teen die grein van die mens gaan. Die Goddelike
faktor maak dit moontlik. Die manier waarop ons met mense in verhouding leef,
verkondig ons kindskap van God. Ons moet ook genadige mense wees. Oor goeies
en slegtes, soos God. Dit is wat God vir ons gedoen het aan die kruis.
Vir “goeies” en “slegtes”. Ons was almal sy vyande...
Ernest