Laat ons maar erken; om jou vyand lief te hê is moeilik.
Om jou vyand lief te hê is baie moeilik. Maar die moeilikste
kom nog! Matteus 5:48 sê ons moet volmaak wees! Soos ons
Vader in die hemel. Baie mense sien hierdie vers as die spilpunt
van die bergrede. As jy hierdie vers verstaan, het die boodskap van
die bergrede vir jou duidelik geword.

Wat bedoel Jesus met hierdie woorde? Wees volmaak soos jou Vader
in die hemel volmaak is.
Verskillende woorde word in die Bybel vir volmaak gebruik. In die Ou
Testament beteken die Hebreeuse woord iets wat van vrede afgelei word.
Hierdie woord beteken dáár om afgerond en volledig mens te wees. In die
Grieks in die Nuwe Testament dui die woord weer op morele onberispelikheid.
Ons sou kon sê dat die volmaakte mens aan sy doel beantwoord en
‘n blaamlose lewenswyse beoefen.

Volmaaktheid kan in aansluiting hierby verstaan word as die volkome oorgawe
en toewyding aan die Here. Om Hom met jou hele hart te dien. Heelhartig.
Volgens Romeine 3:23 beantwoord geen mens van nature aan hierdie vereistes
nie: Almal het gesondig en is ver van God af. Dit is soos ‘n boogskutter wat telkens
letterlik “te kort skiet”! Sonde veroorsaak dat die mens altyd êrens te kort skiet.
Ons kan dus nié op grond van ons eie vermoëns volmaak wees nie. Daarom het
ons dringend hulp nodig.

Nou is die belangrike dat mense van God se koninkryk leef vanuit die
onuitputlike hulpbron, die Here self deur die Heilige Gees! Die Heilige Gees
rus ons toe met die krag om volmaak te wees, om ons lewe dus volkome aan
God te wy, om die Here met ‘n onverdeelde hart te dien, om ons doel te bereik,
dié doel wat God vir ons het.
Efesiërs 5:1-2 is hier belangrik: “Omdat julle kinders van God is en Hy julle
liefhet, moet julle sy voorbeeld volg. Lewe in liefde soos Christus ons ook
liefgehad en om ons ontwil sy lewe as ‘n offergawe gegee het, ja, ‘n offer
wat vir God aanneemlik was.”

Die verband tussen die verskillende liefdes, breedweg... broederliefde,
naasteliefde, en vyandsliefde waartoe Jesus ons oproep, gee vir baie mense
probleme. Jesus wil sê daar is geen verskil tussen hierdie “verskillende liefdes”
nie. Die enigste verskil is die teiken. Daarom is daar ‘n verskil in gevoelswaarde.
Ek voel anders teenoor my broers as my vyand. Maar as ek liefhet soos die Here
dit wil hê, is my gevoel nie die deurslaggewende faktor nie. God se bedoeling
moet vir my die koers aandui! En God se bedoeling is dat ek sal liefhê ten spyte
van mense se bedoeling en houding teenoor my! Ek kan dus nie kies wie ek wil
liefhê nie. Ek is ‘n instrument van God se liefde in hierdie wêreld, soos Christus
dit aan die kruis kom demonstreer het deur vir alle mense te sterf...ook óns
wat Hom gekruisig het...
God besluit hoé en teenoor wie my liefde gestalte sal kry. As kind van God
verteenwoordig ek God se liefde vir alle mense! Só moet liefde wees.
Onvoorwaardelik. Hiermee vertoon ek die beeld van Jesus Christus en toon
ek as kind van God dat ek nou in Jesus na my Vader begin aard! Ek kry dit reg
deur die doelwit van volmaaktheid na te streef wat Christus vir my kom voor-
leef het in hierdie wêreld: Om God met my hele hart te dien en aan Hom
gehoorsaam te wees.

Ernest