“Moenie julle godsdienstige pligte in die openbaar nakom om deur
mense gesien te word nie, want dan kry julle geen beloning van julle
Vader wat in die hemel is nie.” – Matteus 6:1
Die eise van dissipelskap is hoog. Volgelinge van die Here is nie mense
wat net so ‘n bietjie beter as ander is nie. Dit is juis dié oortuiging of
houding wat van jou ‘n Fariseër kan maak. Ons moet nie geestelik
eksklusief en hooghartig raak nie. Een van die grootste misleidings van
die duiwel is dat hy jou laat dink jy is beter as ander mense.
Miskien moet ons nie te gou praat en sê óns is nie Fariseërs nie...
Godsdiens kan gevaarlik wees. Jesus wil in hierdie deel van die bergrede
dit herhaaldelik op ons harte druk. Ons moet nie oor godsdienstigheid
struikel en val nie. Die grootste gevaar van godsdiens is natuurlik dat dit
selfdiens raak. Sommer so met verloop van tyd. Ongemerk. Jou godsdiens
is nie meer eg nie maar selfgerig. Dit gaan nie meer vir jou in alles oor die
koninkryk van God nie. Selfs jou gebede gaan net oor jouself en die klein
wêreld wat om jou draai. Jy gaan net kerk toe om te ontvang. Dit raak
eintlik ‘n privaatpraktyk. Mense sê maklik dat godsdiens ‘n persoonlike
saak is. Selfs wanneer dit ‘n getuienis geleentheid is...
Wat is Godsdiens? Dit is soos die woord sê: dit is diens aan God en aan
my medemens. Onselfsugtige en opofferende diens. Die eer en die belange
van God staan sentraal in selfopofferende liefde.
Wat is godsdiens nie? Dit is nié deelname aan gemeentelike praktyke soos
dit my pas nie. Ek is nie net by geleentheid vir die Here beskikbaar nie.
Dit gaan nie om eie belang nie. Dit is nie die “ek” wat besluit nie, maar die
Here wat my lei, deur die Gees.
Dit is so belangrik dat Jesus pertinent hieroor praat. Wat is skynheiligheid in
godsdiens? Ons moet tog versigtig wees om nie die etiket van skynheiligheid
aan ander mense te hang nie. Ons hoor maklik: “Ek gaan nie kerk toe nie,
want dit is net ‘n klomp skynheiliges wat daar sit.” Sulke mense kan dan nie
eers durf om in die spieël te kyk nie! Ons moet verseker hieroor eers met die
balk in ons eie oog doenig raak.
Daar is rofweg drie tipes skynheiliges:
Diegene wat vroomheid veins met die wete dat dit om slegte of selfsugtige
bedoelinge gaan. Hulle wéét ten minste hulle is daarmee besig...
Dan is daar die mense wat so totaal in beslag geneem word deur hulle eie
belange en eiegeregtigheid dat hulle self salig onbewus is van hulle skynheilig-
heid. Hierdie mense is so oorgewig van hulle eie belange dat hulle nie hulle eie
vuil skoene en selfgesentreedheid kan raaksien nie.
Die derde groep is die meer subtiele skynheiliges. Die verfynde Fariseërs.
Op die oog af die goeie kerkmense. Hulle doen die regte dinge, maar die motief
in hulle harte is verkeerd. Jy sal nie maklik dink hulle is skynheilig nie.
As ons tot hier nog net aan ander mense gedink het, en glad nie
inwaarts na onsself gekyk het nie, kan ons dalk een van hulle wees.
Kom ons dink weer mooi hieroor. Wie staan regtig sentraal in my diens
aan die Here? Wie kry regtig die erkenning, al sê ek ewe vroom
“alle eer aan die Here”? Gaan dit dalk oor my, en die Here word net
eervol vermeld? Hoe belangrik is dit wat die mense van my dink,
teenoor wat ek doen wat reg is in die oë van die Here?
John Milton het gesê: “Nóg mense nóg engele kan vernuftige skynheiligheid
van ware vroomheid onderskei. Skynheiligheid is die enigste boosheid wat
onsigbaar tussen ons wandel. Maar God sien die hart aan!”
Ernest