Ons is baie gevoelig oor wat mense van ons dink, selfs al ontken
ons dit dikwels. Daarom kan ons ons godsdiens baie maklik bedryf met
die oog op wat ander mense dink, eerder as in liefde en selfopoffering.
So kan ons godsdienstige toneelspelers raak. Dan is ons godsdiens nie
meer diens aan God nie. Jesus waarsku juis in die bergrede teen ‘n
openbare godsdiens ter wille van aansien. Hy het dit nie teen openbare
godsdiens as sulks nie. Inteendeel. Hy gee dan die opdrag: Gaan na al die
mense toe en maak hulle my dissipels...
Let op die eerste deel van Matteus 6:1: “Moenie julle godsdienstige
pligte in die openbaar nakom om deur die mense gesien te word nie...”
Die woorde “...om deur mense gesien te word...” is waarteen Jesus
waarsku.
Ons moet tog immers ons lig laat skyn in hierdie wêreld.
Jesus bevraagteken die motief. Gaan dit oor jou, of oor God en sy koninkryk?
Let op Matteus 5:16: “Laat julle lig so voor die mense skyn, dat hulle julle goeie
werke kan sien en julle Vader wat in die hemel is, verheerlik”. Dit is waaroor dit
in ons openbare godsdiens moet gaan. Vroomheid, sónder goeie werke wat aan
die lig kom, kan ewe skynheilig en selfsugtig wees.
Jesus sonder ‘n hele paar geestelike aktiwiteite uit waarin skynvroomheid verskuil
kan lê. Die eerste is hulpverlening aan die armes. Matteus 6:2: “As jy byvoorbeeld
armes help, moet dit nie uitbasuin nie. Dit doen die skynheiliges in die sinagoges
en op straat, sodat mense met lof van hulle kan praat. Dit verseker Ek julle: Hulle
het hulle beloning klaar weg.” Dit gaan eintlik oor enige vorm van hulpbetoon.
Help ek die tannie die swaar sak oor die straat dra om gesien te word, of omdat
ek regtig vir haar omgee?
In die tyd waarin ons nou leef is daar baie meer krisis-nood as waaraan ons
gewoond was. Die wêreld is as’t ware op sy kop gekeer deur die virus...
Soos in Jesus se tyd is die noodlydendes weer baie meer “tussen ons” en nie
“afgesonder” in plakkerskampe of inrigtings nie, of bepaalde woongebiede nie.
Die nood-lyding is nou so naby aan ons dat, as jy mense nie help nie, stap jy as’t
ware oor hulle. In ons hulpverlening moet dit bo alles oor hulp aan die mens in
nood gaan, en hoe ons God daarmee kan eer. Selfs hierin was die Fariseërs
skynheilig. Hul motiewe was verkeerd.
Jesus sê: Maar jý... “As jy byvoorbeeld armes help, moet jy dit nie uitbasuin nie...
Nee, as jy iets vir die armes gee, moet jou linkerhand nie weet wat jou regterhand
doen nie.” Dit gaan eenvoudig oor weldadigheid sónder skynheiligheid! Sonder
uiterlike vertoon. Nie vir die openbare oog of persoonlike wins nie. Eers dan word
dit ‘n offer. Wanneer ons ontdek wat die wonder van genade is, ontdek dat álles
genade is, dan begin ons uit dankbaarheid offer!
Kom ons toets onsself: Sou ek steeds ‘n bydrae maak as ek nie ‘n motor of ‘n
braaier kon wen nie? As niemand dit sou sien of erken nie? As die diaken dit nie
kom haal nie? Sou dit ewe groot wees as my naam nie daaraan gekoppel sou
wees nie? Is dit werklik ‘n offer? Is dit inderdaad so dat my “regterhand nie weet
wat my linkerhand doen nie?” Wat is my motief...?
Ernest