Jesus praat ook oor openbare gebed
wanneer Hy praat oor vroomheidsvertoon.
Gebed is heel waarskynlik die diepste belewenis van ons
verhouding met die Here. Die Here wil hê dat ons moet bid
en leer ons ook met die Ons Vader gebed hoe om te bid.
Ook om gereeld te bid. Soos Hy!

Daar was in die tempeldiens in die Ou Testament gebedsvoorskrifte
wat ontstaan het, en algaande het gebed ‘n wettiese voorskriftelike
handeling geraak. So het dit sy doel gemis. Gebed was nooit bedoel om
in ‘n koue, formele, openbare godsdienstigheid te ontaard nie. Gebed is
nog altyd deur God bedoel as die helderste uitdrukking van ‘n innige
persoonlike gemeenskap met God! Maar in Jesus se tyd, en vandag nog,
kan gebed so maklik in ‘n vroom vertoon ontaard. Gebed raak vir baie
mense ook ‘n preek waarna ander mense moet luister terwyl hulle bid.
Vir ander is dit ‘n geleentheid om welsprekendheid te beklemtoon en
te vertoon. Maar Jesus laat by ons geen twyfel oor hoe Hy oor so ‘n
vroom-vertoon voel nie:
“Verder, as julle bid, moet julle nie soos die skynheiliges wees nie.
Hulle hou daarvan om in die sinagoges en op die straathoeke te staan
en bid sodat die mense hulle kan sien. Dit verseker Ek julle: Hulle het
hulle beloning klaar weg.”- Matteus 6:5. Let wel: Jesus verbied onder
geen omstandighede openbare gebed as sulks nie. Hy stel net die orde
reg: “Nee, as jy bid, gaan na jou kamer toe, maak die deur toe en bid
tot jou Vader wat jy nie kan sien nie. Jou Vader wat sien wat verborge is,
sal jou beloon.” – Matteus 6:6.

Jou gebedslewe begin in jou binnekamer. Die openbare gebed is ‘n verdere
uitlewing daarvan. Dit is ‘n oorloop van ‘n hartlike en opregte verhouding
met die Here na die res van my lewe. Ons kan inderdaad in die openbaar
vir én saam met mekaar bid. Gebed is egter heel eerste ‘n persoonlike
verhouding met die Here voordat dit ‘n kollektiewe verantwoordelikheid word.
Kom ons toets ook ons motiewe in gebed: waarom bid ons in die openbaar?
Is dit vir ons belangrik dat mense sê ons bid mooi? Dink ons agterna dat ons
ons gebede nog mooier kon bid? Preek ons vir ander as ons bid? Waarom wil
ons dikwels ook nié in die openbaar bid nie? Is dit omdat ons bang is wat
mense sal sê?
John Bunyan het gesê: “As ‘n mens bid is dit beter om ‘n hart sonder woorde
te hê, as woorde sonder ‘n hart. Die beste gebede bevat meer sugte as woorde.”

Ernest