Een van die wonderlikste gedeeltes in die bergrede is waar
Jesus ons leer bid. Gebed het in Jesus se lewe ‘n deurslaggewende
rol gespeel. Jesus praat hier in die bergrede oor die Fariseërs se
vertonerige vormgebede. Jesus gee aan hulle bestaande praktyk
‘n positiewe nuwe inhoud. Hy gee regtig nuwe betekenis aan gebed!
Dit is nié net ‘n nuwe vormgebed nie! Met die Ons Vader gebed sê
Jesus nie dat hiérdie alleen die woordelikse gebed is wat jy moet bid nie,
maar eerder dat dit die wesentlike inhoud van jou gebed moet wees.
Dit is baie belangrik. Ons weet tog dat al ons gebede nie die woorde
van die Ons Vader gebed is nie. Die woorde van hierdie gebed moet
egter ons gebede se woorde dra en voed.

Wanneer ons sê dat Jesus regtig nuwe inhoud aan gebed gee, sien ons
dit alreeds in die heel eerste reël. Die aanspreekvorm wat Jesus gebruik
is rewolusionêr in die konteks van sy tyd. Van die heilige Verbondsgod
van die Ou Testament is daar selde gepraat as ‘n Vader. Slegs vyftien maal
in die hele Ou Testament. En dan nie een keer as aanspreekvorm nie!
Jesus se dissipels het seker dadelik regop gesit toe hulle dít hoor.
Watter verrassende ontdekking is dit nie: Dat ‘n mens die heilige God as
jou Vader mag aanspreek! Die Aramese woord, Abba, wat Jesus hier gebruik,
was nie die meer formele woord vir vader in ons Afrikaans nie, maar die meer
intieme aanspreekvorm van “Pappa”. Of Pa, afhangende van jou gevoelswaarde.

Dit beteken geensins minder eerbied en ontsag nie. Jesus se kultuuragtergrond
het tog sy taalgebruik ook beïnvloed. Eerbied vir ouerlike gesag was eenvoudig
nie bevraagteken nie. Maar wat nuut is, is dat jy nou só met God kan praat!
Jesus stel sy hemelse Vader voor as die sorgsame, barmhartige Vader wat intens
vir sy kinders omgee en hulle liefhet.

Met die beskrywende woorde “ons Vader wat in die hemel is...”, word die heilige
afstand ook beklemtoon. Hy bly God wat heilig is in sy heerlikheid. Hy is ver bo
ons verhewe, en daarom die ontsag en eerbied vir sy heiligheid en heerlikheid.
Máár, Hy is óók die God wat naby kom in sy onuitspreeklike Vaderliefde!
Dít is evangelie! God. Vader. Hemelse Vader. En nog meer treffend: “Ons Vader”...!

Heel eerste óns Vader. Met ander woorde, volgelinge van Jesus, kinders van God,
ons, is deel van ‘n familie. God is “óns” Vader. Wanneer ons bid gaan dit altyd ook
oor “ons”. Jesus begin nie die gebed met “my Vader” nie. Al sou al die baie begeertes
van ons menslike natuur ons dring om so spoedig moontlik by ‘n “ek-petisie” uit te kom,
dring die Gees van God ons om te bid as deel van ‘n familie wat aan God behoort.
Ons begin met ‘n “ons”-bede. Ek moet in my gebed woord vir woord met God se
familie rekening hou. Ek behoort, soos sy ander kinders, aan Hom. Daarom kan my
gebed nie selfsugtig wees nie. Wat ‘n onuitspreeklike voorreg! “Ons Vader...”

Samuel Chadwick het gesê: “Satan vrees net een ding: ons gebede. Hy vrees nie ons
godsdienstigheid nie. Hy lag oor ons “goeie werke”. Hy spot met ons geestelike trots.
Maar hy bewe as ons bid.”...Ons Vader...

Ernest