“...laat U koninkryk kom...” – Matteus 6:10.
God is inderdaad die enigste lewende God. Die almagtige God.
Skepper van alles uit niks. Koning van alle konings. Hy is ons Koning!
Die bede is ook die hart van die evangelie. Dit is die sentrale motief in
die bergrede. God is jou Koning en Vader, en jou hele lewe, as volgeling
van Jesus, gaan oor die eer van God en die koms van sy koninkryk op aarde.

Dit plaas jou in die kookpot van die wêreld se kritiek en weerstand. Oral waar
die koninkryk van die mens gesoek word sal jy ‘n vurige teenstander daarvan
moet wees en jou beywer vir die koms van God se koninkryk. Dit gaan jou
inderdaad ‘n vyand van baie mense en hulle ryke maak.
Ons moet ons hele lewe wy aan die Koning van ons lewe. Ons moet ons geheel
en al aan sy heerskappy onderwerp. Die Here se koninkryk is waar Hy as Koning
erken en gehoorsaam word. Daarom bid ons: “...laat U koninkryk kom...”

Hoe doen óns dit in praktyk? God wil tog deur ons sy koninkryk laat kom.
Dink mooi: Ons erken die Koning se heerskappy oor ons lewe en beywer ons
vir sy koninkryk wanneer ons dit wat Jesus tot nou toe vir ons in die bergrede
geleer het, gaan naleef! Gaan uitleef! Dit is groot om te bid “laat U koninkryk kom”.
Want daarmee gee jy jou eie koninkryk prys! Ons kan nie vir God se koninkryk bid
met ons oë op die hemel, en dan met ons eie koninkryke van selfbelang besig
wees nie.
C W Bouma het by geleentheid gesê dat ons met hierdie bede regstreeks
“bid vir ‘n ramp van vernietiging van ons eie koninkryke.” Johannes die Doper was
teleurgesteld, en so ook Petrus en die Emmausgangers, met Jesus se weergawe
van die koninkryk. Hulle het die koninkryk van God as ‘n persoonlike utopia gesien
waar alles net mooi in harmonie sou wees ten opsigte van húlle belange.
God se ryk is steeds besig om te kom!

Allen Redpath het gesê: “Voordat ons eerlik kan bid: “Laat u koninkryk kom”,
moet ons ook gewillig wees om te sê: “Laat my koninkryk gaan.”
Daarom bid ons ook steeds: “...laat U koninkryk kom...” Te midde van die
oënskynlike chaos in hierdie wêreld, is God steeds besig om sy koninkryk te bou!
Ook deur ons. Genadiglik. Hy is nie van ons afhanklik daarvoor nie. Ons moet die
saad van die koninkryk van God bly strooi!
God bou sy koninkryk deur ons ten spyte van ons menslike swakheid, nie op ons
menslike krag en selfvertroue nie. Die vreemdste van alles is dat Hy ons nie gebruik
“ten spyte van” ons foute nie, maar juis op grond daarvan! Want sy krag skitter
deur ons dowwe pogings.
Ons Koning heers en kom weer!

Ernest