Die wêreld leef vir die mens se eie wil. Nie vir God se wil nie.
Die wêreld is eintlik uitgelewer aan die mens se wil. Kyk net hoe
gaan dit in die wêreld waar die mens dink dat hy regeer. CS Lewis sê
dat die wese van die hel niks anders is nie as dat die mens onophoudelik
sy eie wil soek en dat God die mens dan as’t ware aan sy eie wil oorgee...
Die Ons Vader gebed leer ons om teen hierdie helse eiewilligheid te bid.

Jesus leer ons in Matteus 6:10 “...laat u wil ook op die aarde geskied,
net soos in die hemel.” Hy leer ons om teen onsself en ons eie wil te bid.
Jesus leer ons nie hier om teen almal te bid wat anders as ons glo en dink nie.
Hierdie bede is heel eerste ‘n Getsemane-gebed. Dit is ‘n gebed van selfoorgawe!
Selfopoffering! Nie my wil nie maar U wil! Waar ons lewe, is dit nie die hemel nie.
Selfs nie eers in ons eie harte is dit hemel nie. Selfs al woon die Heilige Gees in ons,
weerstaan ons Hom dikwels. Ons volg ons eie kop. Die wil van God moet hier nog
duskant die wederkoms geskied. Daarom moet ons daarvoor bid. In die hemel is
volkome harmonie met die wil van God. Hier nie. Daarom bid ons saam met Jesus:
“...laat u wil ook op die aarde geskied, net soos in die hemel.” Ons sien uit na die
dag wanneer Christus alles in almal sal wees. Die dag wanneer dit hemel sal wees,
ook op die aarde.

Hierdie bede is egter ook onmiddellik van krag. Ons moet nou reeds in ons eie
lewe God se wil soek en doen. Dit moet dan uitkring na alles en almal met wie
ons te doen het. Ons is God se verteenwoordigers en word geroep om sy wil te
verkondig en daadwerklik te doen. Ons moet met ywer in die Woord van God
soek na sy wil en dit uitleef. Is dit so in jou lewe?

Jesus stel vir ons die voorbeeld van hoé ‘n mens oor God se wil moet dink en doen.
Ons sê dikwels van iets, waarvan ons hou om te doen, dat dit “my kos is om dit te
doen.” Jy geniet dit, jy leef dit. Jy leef daarvoor! Jesus sê in Johannes 4:34:
“My voedsel is om die wil te doen van Hom wat My gestuur het om sy werk te
voltooi.” Let op wat Jesus sê: Sy kos is om die wil te doen van Hom wat Jesus gestuur
het! Dit moet ook ons “kos” wees om God se wil te doen. Dit is waarvoor ons leef!
Dit is nie ‘n bysaak nie. Om God se wil te doen is nie altyd maklik nie en vra die offer
van jouself, soos Jesus se Getsemane gebed vir ons wys. Nogtans nie my wil nie, maar
God se wil. Vra die Here vir wysheid om regtig te onderskei tussen jou wil en God se wil,
en om dan God se wil te doen. Ja, bid daagliks daarvoor, soos Jesus ons in die Ons Vader
gebed leer om daarvoor te bid. En doen dan God se wil!

Ernest