“Gee ons vandag ons daaglikse brood; en vergeef ons ons
oortredings soos ons ook dié vergeef wat teen ons oortree;
en laat ons nie in die versoeking kom nie maar verlos ons van
die Bose.” – Matteus 6:11-13. Ons daaglikse behoeftes is nie net
kos nie, met ander woorde die materiële nie, maar ook geestelik,
in terme van sonde en vergifnis, versoekings en verlossing.

Jesus bid so konkreet in terme van ons daaglikse gewone lewe!
Van die koninkryk van God in die begin van die gebed, tot die brood
op die tafel vir daaglikse behoeftes. Jesus praat van daaglikse brood!
Daaglikse lewe. Daaglikse behoeftes is vir God net so belangrik as sy
koninkryk. God sorg omvattend vir ons. Daarom mag ons vir alles in
gebed na Hom toe gaan. God word ook in die detail geëer.

Jou brood is nie jou eiebelang nie. Dit is nodig vir lewe. Niks val buite
God se sorg en omgee nie. Dit gaan oor ons afhanklikheid van God vir
letterlik alles, en ons dankbaarheid aan Hom vir alles. Hierdie bede dink
daarom nie net aan brood alleen nie. Let ook op, ons bid vir daaglikse brood.
Ons bid nie gulsig en vooruit vir oorvloed nie. God weet wat ons nodig het nog
voordat ons daarvoor vra. Dit is ook nie ‘n selfsugtige bede van “mý” daaglikse
brood nie, maar ‘n gebed vir “óns” daaglikse brood. Terwyl ons dit bid dink ons
al daaraan dat ons dit met ander deel. Ons bid in afhanklikheid en mededeel-
saamheid.

Hierdie gebed leer ons ook verantwoordelikheid. Onthou wat in Matteus 14:16
gebeur het. Jesus sê daar: “Gee júlle vir hulle iets om te eet.” Met dit in gedagte
bid ons: “Gee ons vandag ons daaglikse brood...” Ek vra dat God my sal versadig
en ook deur my ander sal versadig...want ek bid vir óns!
Kan ek bekostig om brood weg te gooi terwyl ander honger ly?
Sal ek onthou hoé afhanklik ek regtig van God is?

Ernest