“...en vergeef ons ons oortredings soos ons ook dié vergewe
wat teen ons oortree...” – Matteus 6:12. Die behoefte aan
sondevergifnis is een van die sterkste en dringendste behoeftes
in elke mens se lewe. Ons word belas met skuldgevoelens. Dit is die
druk van egte skuld wat ons ervaar! Jesus leer ons hier om ons skuld na
God te bring en met Hom daaroor te praat! By Hom is daar vergifnis.
Om te bid “vergeef ons”, is ‘n gevaarlike bede. Ons kan nie soos dors
mense bid, en dan aanhou seewater drink nie! Ons sal nie van die dors
ontslae raak nie! Ons kom dan nie by die ware lewenswater uit nie.
Ons kan ook nie vir ons vergifnis betaal nie. Ons moet besef dat Jesus
klaar vir ons skuld betaal het wanneer ons bid om vergifnis. Ons bid dit
in sy Naam en ter wille van Hom! Sy eer. Genade laat jou nie aanhou
sonde doen nie. Dan verstaan jy nie genade nie.

Jesus wil ons perspektief gee. Daarom bid Hy vergeef “ons”, en “soos ons”.
Dit gaan nie hier selfsugtig nét oor ons eie skuld nie, om ek-gesentreerd te
bid nie. Ek bid nie net om vergifnis ter wille van myself nie, maar ook ter
wille van God se koninkryk. Ons moet onselfsugtig bid om skuldvergifnis.
My skuld raak ook die res van God se koninkryk. Daarom bid ons ook en
praat ons ook van kollektiewe skuld. Behalwe dat ons by God ons eie
persoonlike skuld bely, moet ons ook vir ander ‘n hart hê, om ook vir hulle
skuld by God in te tree en vir hulle te bid, en dan ook medeverantwoordelik-
heid aanvaar waar ons deel van ‘n groep is wat skuld dra.

Die bede dat God my sal vergewe soos ek ander vergewe, is verbysterend!
As dit op sigwaarde waar moet wees is ek verdoem! Klaarblyklik bedoel
Jesus nie hier dat God moet kyk wat ék doen, en dan nét so aan my terug
doen nie. Hy bedoel dit andersom: dat ek na die Vader sal kyk, en dan van
harte sal probeer om óók te doen soos die Vader doen! God weet hoe hard
ek probeer om skuld-vergifnis teenoor ander toe te pas! Ook die onvermoë
om te vergewe is deel van my skuld waarmee ek na God toe kom! Maar dit
bly deel van my verantwoordelikheid!

Baie mense kan nie vergifnis aanvaar nie, omdat hulle nie vergifnis kan gee nie.
Hulle dink die hemelse Vader meet hulle soos hulle ander mense meet. Daarom
sal die Here hulle ook nie maklik vergewe nie. Ons moet nie vergeet dat die Here
van die Bergrede gekruisig is en daar vir ons onvermoë betaal het nie. Daar het
Hy ook my onvermoë om te vergewe op Hom geneem. Hy neem my aan die hand
en leer my om meer en meer te vergewe. Mag die Here ons tegemoetkom met sy
genade en ons dag vir dag leer om te vergewe, soos Hy ons vergewe het...
moenie aanhou soutwater drink as jy dors is nie. Drink by die fontein wat
vergifnis en lewe gee, en deel dit uit!

Ernest